Video
TUINROETE | KAROO NUUS EN VIDEO - Neels van Jaarsveld, een van Suid-Afrika se bekendste akteurs, se groot liefde vir diere is van Saterdagaand, 8 April, om 18:00 op kykNET in 'n nuwe TV-reeks, Op reis met my beste vriend, te sien.
Van Jaarsveld kuier op die oomblik in die Tuinroete en kykers sal in een van die episodes kennis maak met hom en sy geliefde vierpootvriend, Lulu.
Benewens Van Jaarsveld, die regisseur, vervaardiger en skrywer van die reeks, word die program ook aangebied deur onder andere Leah, Theodore Jantjies, Eloise Cupido, Francois en Nyke Pretorius en Sue Pyler. Dit word beskryf as 'n program wat die troeteldier eerste plaas.
Van Jaarsveld het vroeër die week aan George Herald gesê dit wys vir 13 weke. "Ek het 'n uitnodiging gekry om die ongelooflike Fancourt te besoek, maar bemark ook tussenin die program in die area. Ek maak ook 'n draai by Peacehaven on Sea in Wilderness.
"Die Tuinroete is een van my gunstelinge plekke ter wêreld. Dis absoluut fantasties in alle aspekte."
Volgens Van Jaarsveld kan mense ontsettend baie leer by troeteldiere. "Dit is onvoorwaardelike liefde, lojaliteit en passie. Dit kom beslis uit in die reeks."
Tydens die opnames was hy effens skugter vir Theodore Jantjies se boerboel. "Maar hy was maar net besig om te alle tye sy eienaar te beskerm. Ons het baie gelag gedurende die verfilming van die reeks."
Lulu reis graag saam. "Sy pas ook my ma, Lydia op as sy nie saam kan toer nie. Lulu is 'n merkwaardige hond. So vol liefde, omgee en passie. Ek het 'n baie groot liefde vir die natuur en ook vir diere."
VERSKAFDE VIDEO - Bekendes en hul troeteldiere
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’