Lilly, oftewel Carin Groenewald, het 'n regstreekse DVD-opname verlede Saterdag by Eden's Place buite George gemaak. Die CD-bekendstelling van die karakter se kindermusiek het terselfdertyd plaasgevind.
"Dit is as't ware Lilly se geboorte vandag," het Groenewald kort voor die vertoning aan die George Herald gesê.
Groenewald het vroeër bekendheid verwerf as Tikara, die hoofsanger van die bekende Suid-Afrikaanse popgroep Semisane. Sowat 11 jaar gelede het sy die groep verlaat en na George verhuis. Sy en haar man Louie het die Carin PlanetPlay Privaat Musiekskool en PlanetPlay Studios gestig, waar sy steeds haar liefde vir kinders en musiek uitleef deur jong talent te ontgin.
Een van haar studente, Juan Appelgrein, oftewel Johnny Apple, was verlede jaar die wenner van die South Africa's got Talent-kompetisie.
Groenewald het verskeie plaaslike kinders wat saam met haar die verhoog as dansers deel. Die kinders het Saterdag ewe kleur-volle uitrustings aangehad en was baie opgewonde voor die vertoning.
Jandri van Straaten (11) het gesê dat dit in die begin effens "weird" voel om voor ander mense op te tree.
"'n Mens raak dit later gewoond," het sy vir die George Herald gesê. Die meeste van die meisies neem moderne dans of ballet.
Groenewald en die liriekskrywer Adri van Nieuwenhuizen het reeds drie jaar gelede met die Lilly-projek begin. Die karakter is eers aan die begin van vanjaar aan die pu-bliek bekend gestel.
"Dit was die regte tyd. Daar was niemand anders op daardie tydstip wat dit doen wat ons doen nie," het Groenewald gesê.

Lilly se dansertjies maak reg om op die verhoog te verskyn, gedurende haar DVD-opname en CD-bekendstelling verlede Saterdag. Suzette Stander (links) help haar dogter Zandrie (7) met lipstiffie, terwyl Mishke van Niekerk (4, middel voor) ook haar lippies reghou. Langs Mischke is Maya Hartslief (11) en Sunique Stander (9). Agter van links is Gisela Spies (11), Jandri van Straaten (11), Lilly van Liekieland, oftewel Carin Groenewald, en die sussies Nicole (9) en Carmen Booyens (11). Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'