GEORGE NUUS - Die groep Kwaggas wat Disney se musiekblyspel, High School Musical vandeesmaand op die planke gebring het, het hulle uitstekend van hul taak gekwyt en gesorg vir heerlike kyk- en luistergenot van hoogstaande gehalte.
Die blyspel vertel die verhaal van Troy, Gabriella en die studente van East High wat kwessies van eerste liefde, vriende en familie moet hanteer terwyl hulle hul klasse en buitemuurse aktiwiteite balanseer.
Dit was pret vir die hele gesin en weerspieël die ideaal van 'n veilige skoolomgewing waar elke kind tel.
Izelle Bester, 'n ouer wat betrokke was by die projek, skryf oor haar ervaring van waar die projek net 'n droom was tot by die uitvoering daarvan:
Onderwysers het gedroom, beplan, karakters geïdentifiseer, geswoeg en gesweet ... kinders het ook gedroom, geleenthede aangegryp, kliphard gewerk, min geslaap, baie opgeoffer, maar meer gewen! Ek, as 'buitestaander', neem baie dinge waar...
Dié wat my ken, sal vir jou sê my hart vir kinders, kuns en kultuur wen soms my beter oordeel. Maar op die laaste repeteringsaand beleef ek weereens die rede waarom ek so hard stoei daarvoor en wat ALLES die moeite werd maak.
Die hele musiekblyspel word uitgevoer. Uit die staanspoor merk ek die seun wat aan die begin nie sy kop kon optel nie, wat kliphard lag, met blink oë.
Die meisie wat my skaars kon groet, my styf kom vasdruk en shine, omdat sy die kans gekry het en briljant doen.
Die seun wat sluip-sluip saans saggies huis toe verdwyn het, is nou deel van 'n groep - hy lag en gesels met almal en bly amper tot heel laaste.
Een verjaar en 'n groepie verras hom deur saam cupcakes te eet en vir hom te bid.
Onderwysers deel met die kinders wat dit beteken om deel van so iets te wees en jy sien die liefde deur die moeg, jy ervaar die aanvaarding binne die chaos, jy lees 'behoort' binne 3 maande! En DIT is wat onderwys moet regkry.
Ouers spring in en voorsien kos, gee rygeleenthede, help klere uitsorteer, help om die skool en saal te omskep in East High. Nuwe vriende word gemaak, ons bid saam vir die groot hartseer in 'n ander deel van ons dorp.
Mense begin raaksien hoe hul kinders blom en ten spyte van die moeg elke dag aanpak met nuwe krag en ywer. Ouers begin intree vir ander se kinders en hul harte en ek staan dankbaar en toekyk hoe Kwaggaland mekaar omhels, soos ek nog nooit voorheen ervaar het nie.
En ten tyde van die een van die grootste rampe in ons dorp ervaar ek, skaars 'n kilometer verder, in oorvloed ... liefde, lig, omgee, intree, sorg, aanpraat en moed inpraat, leer bymekaar, leer oor onsself en die absolute genade waarin ons leef. High School Musical se slagspreuk dreun in my ore, "We're all in this together".
LINKS: Die hoofkarakters in High School Musical, van links: Lujah Diedericks, Jody Thorne, Jasmine Arries, Henco Bester, Sharonique Petersen en Algero Kaars.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’