Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - George-kunsteteater is deesdae propvol plaaslike produksies en dinge vir volgende jaar lyk nóg woeliger.
Hierdie post-pandemiese wending is deels te danke aan 'n dors vir die kunste, maar met 'n splinternuwe, toegewyde kunstedirekteur, is daar nuwe energie in die lug.
Quintin van Biljon is g'n vreemdeling vir die George-kunsteteater nie. Sedert hy 'n paar jaar gelede na die Goudstad verhuis het, het hy elke langvakansie dramaprogramme hier aangebied.
"Elke keer wanneer ek tyd in George spandeer het dit vir my moeiliker geraak om terug te keer na Johannesburg," het hy tydens 'n onderhoud verlede Vrydag gesê.
"Op die ou end het ek net oë toegeknyp en gespring. Ek moes terugkom." Quintin het einde Maart vanjaar as kunstedirekteur by die teater begin werk.
"My rol in 'n neutedop is om die teater se voetspoor te verbreed, om nou saam met ander direkteure te werk en te verseker dat produksies vlot verloop, asook om groot name na die teater te bring. Ek is verantwoordelik vir die ontwikkeling en implementering van die kunsteteater se artistieke visie."
Hy het dadelik ingespring en gehelp met die produksie Broadway - the Greatest Show in Mei, en was self op die planke met die vertoning Tom, Dick and Harry in September.
VIDEO: Kunste direkteur Quintin van Biljion gesels oor sy terugkeer na George- kunsteteater
Nou is Quintin besiger as ooit met alles wat voorlê vir die teater: "Die produksie Jack and the Beanstalk is vanjaar se tradisionele Desember-pantomime en is binnekort op die planke.
"Ons is ook reeds besig met kleedrepetisies vir Seussical, 'n musiekblyspel vir volgende jaar in Februarie, met al Dr. Seuss se karakters op een verhoog. In Junie kom daar 'n grootte, die musiekblyspel Grease en 'n bietjie later 'n huldeblyk aan Rocky Horror Picture Show. Volgende jaar se pantomime is Little Mermaid."
Volgens Quintin was dit vir hom duidelik dat daar oor die afgelope klompie jare 'n paar veranderings in George plaasgevind het: "George is baie besiger, baie meer mense en verkeer. Dit is oor die algemeen 'n lekker plek en ek dink ons is bevoorreg om in hierdie area te woon. Dit is hoekom ek die heeltyd 'n hunkering gehad het om terug te kom."
Quintin van Biljon (links) as die bose koningin in die kunsteteater se 2012-pantomine, Sneeuwitjie. Foto: Michelle Pienaar
Quintin van Biljon as "Blanco" in die produksie The heart is round, deur Ian von Memerty.
In lewende lywe: Quintin van Biljon. Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'