VERMAAK NUUS - Die suksesvolle reeks van ses Herfsetensuurkonserte het verlede Woensdag tot 'n einde geloop met 'n solo-orreluitvoering deur Gerrit Jordaan.
Die tema was 'Toccata' en op die program was toccatas van Gigout, Widor, JS Bach (in F majeur) en ter afsluiting 'n toccata uit inheemse bodem Toccata for Madiba van Suid-Afrikaner Surendran Reddy.
Dit val ook saam met die viering van Nelson Mandela se 100 jarige geboortedagherdenking.
In hierdie werk kombineer die komponis inheemse style soos mbaqanga, township jazz, as ook klassieke style soos die fuga op Nkosi Sikele - waarmee werk uitbundig eindig.
Historiese eerste
Die voorlaaste konsert in die reeks was van historiese belang. Kunsliedere van twee George-komponiste Gerrit Jordaan en Dalene Brits is gevoelvol gesing deur Alma Oosthuizen en Lida de Villiers.
Die werke is begelei deur dié komponiste. Die kunslied, wat die emosie van die gedig uitbeeld in die stem en begeleiding was goed geïllustreer met toonsettings van bekende gedigte soos Kom gee vir my polfyntjie, Winternag en Dans van die reën.
Van Dalene Brits is daar uit haar stelle Polfyntjie, WEG Louw en Eugene Marais liedere gekies.
Van Gerrit Jordaan is daar vier slaapliedjies gesing asook drie Botaniese Tuinliedere op hedendaagse tekste van Hans du Plessis, Bernard Odendaal en Susan Smith.
Lente
Die volgende etensuurkonserte sal eers weer in die lenteseisoen gehou word.
Hierdie keer sal Georgiete moet sorg dat hulle daar is - die NG Moederkerk is ruim en die optredes is gratis en skep boonop 'n gevoel van samehorigheid en trots op die talentvolle kunstenaars wat almal vanuit eie bodem is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'