GEORGE NUUS - SWD LSEN (Learners with Special Education Needs)-rugbyunie bied komende Saterdag, 28 Mei, 'n gesellige kuiergeleentheid aan in samewerking met Mujo Bar en Restaurant.
Die kuier is 'n geldinsamelingsgeleentheid vir die rugbyunie wat gasheer is vir die 2022 LSEN Cravenweek wat van 26 tot 30 Junie by Outeniquapark aangebied word.
Daan-Louis Gerber, sekretaris van SWD LSEN-rugbyunie, sê hulle moet geld insamel want die organisering en aanbieding van 'n Cravenweek beloop derduisende rande.
"Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) bied alleenlik finansiële ondersteuning aan die Grant Khomo en o. 18 Cravenweek wat hoofstroomrugbygeleenthede is."
Al die geld wat met komende Saterdag se geleentheid ingesamel word, sal gaan aan die SWD LSEN-rugbyunie vir die organisering en bestuur van die 2022 LSEN Cravenweek.
Die deure by Mujo maak Saterdag om 10:00 oop. Kaartjies kos R120 en dit sluit in toegang, kruisskyf, tjips, slaai, bier en lewendige musiek verskaf deur Gerber en Murphy.
Daar sal ook 'n lootjietrekking wees waar die wenner 'n beperkte uitgawe 2022 LSEN Cravenweek bottel rooiwyn kry.
Nog 'n kuier by Mujo op 18 Junie
Die gesellige kuier word op 18 Junie by Mujo herhaal om SWD LSEN-rugby se geldinsamelingspogings te ondersteun.
Toegang tot die 2022 LSEN Cravenweek by Outeniquapark sal gratis wees.
SuperSport gaan die wedstryde op kanaal 208 uitsaai.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'