GEORGE NUUS - By die etensuurkonsert in die NG Moeder-kerk op Woensdag 17 November gaan die gehoor trakteer word op 'n viooluitvoering deur Stefan Conradie. Stefan het in George grootgeword.
Sedert sy eerste vioollesse op die ouderdom van 11 jaar is sy passie vir die viool verder aangewakker deur sy mentors Karol Legierski en Marianne Cilliers, albei bekwame violiste.
Na skool het hy musiek studeer aan die South African College of Music onder die wakende oog van Lucia Scott. In hierdie tyd was Stefan 'n lid van die UCT Simfonieorkes en die UCT Strykensemble.
Hy het 'n diep liefde vir vioolonderrig en optrede en is nou terug in George, waar hy vioollesse aanbied terwyl hy sy studies voltooi.
Hoogtepunte in die program is Chaccone van Tomaso Vitali en Kreisler se Praeludium en Allegro. Stefan word begelei deur die bekende en bekwame Dalene Brits.
Die konsert duur van 13:10 tot 13:50. Toegang is gratis, maar donasies is welkom. Dra van maskers is verpligtend.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'