OUDTSHOORN NUUS - Liefhebbers van klaviermusiek het hope om na uit te sien by hierdie jaar se Klein Karoo Klassique, wanneer die klanke van klawers tussen Donderdag 8 en Sondag 11 Augustus op Oudtshoorn weerklink.
“Die program bevat ’n variasie van musiek, van klavier, tot orrel en marimba – uitgevoer deur bekroonde kunstenaars in beide solo-uitvoerings en as begeleiers vir ander musici,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van dié fees.
Plaaslike pianis Sulayman Human keer terug na sy tuisdorp in When poets speak op Vrydag 9 Augustus om 14:30. Die inhoud van sy program is geïnspireer deur donker poësie, asook dapper poësie, waaronder Gaspard de la Nuit deur Aloysius Bertrand en Divine Comedy deur Dante Alighieri.
“Musiek wat deur ’n ander kunsvorm geïnspireer is, het altyd ’n sterk, duidelike boodskap. Alle vorme van kuns bring mense byeen en tydens hierdie ontmoetings word gedagtes geopen en ’n gesamentlike bo-sintuiglike ruimte binnegegaan,” vertel Human oor die inspirasie agter sy uitvoering.
Op Saterdag 10 Augustus om 14:30 speel Erik Dippenaar orrelmusiek in Transkribarok, met transkripsies van gewilde orkeswerke uit die Barok-periode.
Die program sluit Handel se Musiek vir die Koninklike Vuurwerke, Watermusiek en Die Aankoms van die Koningin van Skeba, asook ’n concerto grosso deur Corelli in. Dippenaar is ’n multi-bekroonde kunstenaar en tans artistieke direkteur van die Camerata Tinta Barocca, ’n Kaapstad-gebaseerde barok-ensemble wat reeds twee keer vantevore by Klein Karoo Klassique opgetree het.
In Trio du Cap Classique op Vrydag 9 Augustus om 10:30 kombineer pianis François du Toit werke vir fluit, tjello en klavier saam met Liesl Stoltz (fluit) en David Pinoit (tjello).
Hulle program sluit Felix Mendelssohn se Trio in D-mineur, moontlik sy mees-bekende kamermusiek-komposisie, asook CM von Weber se Trio in G-mineur Opus 63 in. Die program eindig met Herfs deur Argentynse tango-komponis, Astor Piazzolla. Hierdie beweging vorm deel van sy Vier Seisoene.
Theart vertel verder dat Klassique vanjaar vir die eerste keer sedert 2015 ’n Galakonsert aanbied, waartydens die gehoor klaviermusiek deur die jong Qden Blauw gaan hoor. “Ons is baie opgewonde om vir Qden by Klassique te verwelkom. Hy het reeds verskeie pryse gewen en is op 15-jarige ouderdom die jongste solo-kunstenaar wat tot dusver by dié fees opgetree het,” vertel Theart. Blauw lei die Galakonsert se program op Saterdag 10 Augustus om 19:00 in. Die gehoor kan verder uitsien na klavierbegeleiding vir die drie soprane - Minette du Toit-Pearce, Lynelle Kenned en Janel Speelman. – deur Philippus Hugo.
Olive Sandilands verskaf in Violin Dialogue op Saterdag 10 Augustus om 10:30, klavierbegeleiding aan violiste Zanta Hofmeyr en Miro Chakaryan. Dié uitvoering is bekroon met die kykNET Fiësta vir beste prestasie in klassieke musiek én beste klassieke musiekproduksie by Aardklop in 2018. ’n Opwindende program van virtuose vioolduo’s met werke van Wieniawski, Sarasate, Leclair, Shostakovich en Moszkowski word uitgevoer.
Klassique sluit op Sondag 11 Augustus om 14:30 af met ATKV-Virtuose in konsert wanneer pianis Megan-Geoffrey Prins, wenner van ATKV-Muziq in 2016, vir bariton Bongani Kubheka en saksofoonspeler Cameron Williams begelei.
Prins se vingerdanspassies op wit-en-swart klawers het hom al verskeie toekennings besorg.
Andersoortige perkussie-klawers word op Vrydag 9 Augustus om 18:00 deur marimba-speler Dylan Tabisher in Marimba Melodies gebruik. Tabisher het die SAMRO Oorsese-beurs in 2016 gewen en neem die gehoor saam op sy reis as marimba-speler, wat in 2006 begin het. Werke van sy gunsteling-komponiste, waaronder Keiko Abe, JS Bach, Evelyn Glennie, Nebojsa Zivkovic en Astor Piazzolla, word gehoor.
’n Spesiale kaartjiepakket, moontlik gemaak deur die ondersteuning van die Rupert-Musiekstigting, stel feesgangers in staat om elke noot by Klassique te hoor en boonop R240 te spaar. “Feesgangers moet gou speel vir hul pakkette, aangesien dié aanbod uiters gewild is en ook vinnig uitverkoop,” sluit Theart af.
Die volledige feesprogram is beskikbaar by www.klassique.co.za en kaartjies kan by Computicket, Shoprite/Checkers, House & Home, of aanlyn by www.computicket.com gekoop word. Vir meer inligting, kontak Kunste Onbeperk se kantoor by 044 203 8600, of info@kunste.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'