GEORGE NUUS - Dalene Brits en Kalene Roux bied volgende Woensdag, 12 Oktober, 'n program van duette by die etensuur-konsert aan wat almal oorspronklik vir klavier gekomponeer is.
Een van die hoogtepunte is die bekende Fantasie in F mineur deur die Oostenrykse komponis Franz Schubert. Dit dateer uit die laat klassieke, vroeg Romantiese era en hy het dit in sy laaste lewensjaar, op 30 jarige ouderdom, gekomponeer.
Die gehoor kan ook uitsien na die gewilde Dolly opus 56 uit die pen van die Franse komponis Gabriel Fauré. Hy was 'n familievriend van Dolly se ouers. Sy het voor hom grootgeword en hierdie werk beskryf ervarings uit haar lewe.
Die Petite Suite, deur die geniale Franse laat Romantiese impressionistiese komponis Claude Debussy, bevat ook heelwat gewaardeerde temas.
Die etensuurkonsert vind tussen 13:10 en 14:00 by die NG Moederkerk plaas. Toegang is gratis. Donasies is welkom.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'