Die koor het getoon waarom hulle al met hul pragtige stemme soveel pryse losgeslaan het. Hul veelsydige repertoire het liedjies soos Lady Madonna (Lennon), Pata Pata en Mata Del Anima Sola (Antonio Estevez) en ook Ladysmith Black Mambazo se liedjie Homeless ingesluit.
‘n Lewendige uitbeelding van die simboliek-belaaide liedjie, Uxam’-uxakile, met treffende danspassies en dramatiese vokale aanslag was uitstekend. Die skrikwekkende, slangagtige kreatuur, Uxam is uitgebeeld met gebare en danspassies, en het die gehoor regop laat sit. ‘n Staande ovasie het die koor te beurt geval aan die einde van die aand.
Emile Minnie, wat gewoonlik gehore bekoor met sy amusante aanbieding van Franse liedere en humoristiese vertellinge se optrede het ongelukkig ‘n bietjie platgeval as gevolg van die gedempte akoestiek van die Outeniqua Hoërskoolsaal.
Maar andersins het die talentvolle sanger die verrigtinge, wat hierdie hele week by Outeniqua Hoër afspeel, op ‘n hoë noot afgesit.
Om die wêreld ‘n beter plek te maak met goeie beeldende- en opvoerende kunste, is die doelstelling van die Kaleidoskoop- kunstefees, sê Louise Louw, feeskoordineerder.
Die program sluit in ‘n modeparade en optredes van die Fantasia-koor van Hoërskool Framesby. Die Libere-stigting se treffende uitstalling van ontwerpersklere en -voorwerpe uit herwonne materiaal was ook te siene. Hierdeur word werklose mense bemagtig om iets te verdien om hulself op te hef.
‘n Heerlike driegang-maaltyd het die feestelike opening afgesluit.
 (Small).jpg)
Die NMMU PE koor se optrede was ‘n treffer by die loodsing van die derde Sanlam Trust Outeniqua Kaleidoskoop in die Kwaggas se skoolsaal.
 (Small).jpg)
Sanlam Trust HUB Berrie Botha en sy gade Annelie, Louise Louw, feeskoördineerder en sjarmante Emile Minnie - een van SA se beste liedjieskrywers.
FOTO'S: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS