Kunstenaars so ver as die Moederstad het die verrigtinge bygewoon, en hul gewildste treffers gelewer en plaaslike kunstenaars touwys gemaak. Icosa-lede het ook ter onder-steuning van die dag kom gesig wys.
Tyson Sharpe, direkteur van Game Changers in George wat ook opgetree het, het gesê die hoofdoel van die dag was om 'n platform vir jong kunstenaars te skep.
"Almal wat 'n liefde vir musiek het, het vandag die geleentheid om dit ten volle uit te leef, en ook so, die betekenis van Ubuntu uit te beeld."
Jonk en oud van Golden Valley het plesierig saam gedans op die ritme van reggae-musiek, en selfs nou en dan die mikrofoon gegryp en saamgesing of gebrom.
Een van die stappers vir inheemse regte, Neil Carelse, ook bekend as Dikwe X, het 'n gedig voorgedra wat die gehoor saamstemmend hul koppe laat skud het. Dikwe X is daarvoor bekend dat hy deur middel van gedigte die jeug opvoed en motiveer om bo hul omstandighede uit te styg.
JD Hartman, beter bekend as 'Hakkiesdraad', lid van die Staff Members Production (SMP) in George, 'n onafhanklike produksie organisasie wat musiek, kort films en advertensies produseer, het die omstanders behoorlik bekoor met sy Afrikaanse praat-sing talent. SMP skep ook dikwels platforms om vir jong kunstenaars te help om meer selfvertroue op te doen.
Bekendes soos, Nazeer Abdol (Terror MC), Marko Snyders (Maniak) en Jethro Louw (Tanneman) onder andere, het omtrent almal laat rond spring van opgewondenheid.
Twee matrikulante van George Hoërskool, Dayne Buys en Franco Fortuin, wat glo dat musiek 'n verskil kan maak, het ook die stoep geneem en almal in 'n dansbui gekry.
JD Hartman, 'Hakkiesdraad' het 'n slag met woorde.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'