Merriman Eckard Smuts (29) is 'n lektor by die Universiteit van Kaapstad (UCT) waar hy tweedejaars in die fynere kunsies van die Nobelpryswenner, Coetzee se skryfstyl en werke slyp.
Hy is ook die administrateur van die 'Coetzee Collective' - 'n netwerk van internasionale studente wat navorsing doen oor JM Coetzee en sy werk. JM Coetzee is veral bekend vir sy boek Disgrace wat afspeel in post-apartheid Suid-Afrika.
Smuts het verwys na die erotiese motief in Coetzee se werk en hoe die skrywer sy ware self so probeer openbaar. "Kuns en seks is dikwels in sy skryfkuns verweef. Dit lyk asof hy soek na 'the real thing' om dan sy eie ware menswees op die manier te leer ken."
Op die oomblik doen Smuts sy doktorsgraad by UCT na hy sy meestersgraad cum laude by Universiteit Stellenbosch ontvang het. (Volgens sy trotse tannie, Madeleine Smuts, die eienaar van Die Waenhuis, het hy die hoogste punt gekry wat nog ooit in die departement vir 'n skripsie gegee is.)
Smuts se doktorsgraad-tesis handel oor die outobiografiese fiksie van Coetzee wat die boeke Boyhood, Youth en Summertime in-sluit. "Coetzee is voortdurend besig met 'n spel met die waarheid.
Die leser wonder: Is dit waar of nie? Wat is fiksie en wat is feite?"
Smuts, wat as student tydelik by die George Herald gewerk het, lag lekker oor sy eerste dag by die koerant. "Ek het ingestap en gevra of daar nie dalk vir my werk is nie. Die volgende oomblik sê hulle daar's jou lessenaar en stuur my om 'n foto van 'n vragmotor wat gerol het te gaan neem.
Daar was nie tyd om verdwaas te wees nie, ek moes net die kamera gryp, na die ongelukstoneel jaag en die storie skryf. Sommer net so!"
Smuts, wat ook Frans en Spaans magtig is, is al internasionaal vereer vir sy verskeie prestasies. Sy akademiese publikasies Reading Through the Gates: Structure, Desire and Subjectivity in J.M. Coetzee's Elizabeth Costello en J.M. Coetzee and the Politics of Selfhood word wyd geloof.
Die langverwagte eerste biografie oor Coetzee, JM Coetzee: A life in writing deur die wyle akademikus en skrywer, JC Kannemeyer, is eersdaags op die rak.

JM Coetzee-kenner Eckard Smuts by Die Waenhuisgastehuis wat
ARTIKEL EN FOTO'S: ILSE SCHOONRAAD, GEORGE HERALD-REDAKTEUR