GEORGE NUUS - ‘n Musiekonderwyser van George High, Germaine Leonard - ook bekend as Germaine Legend - het einde September ‘n jazz-kitaarenkelsnit, Fallen Heroes, vrygestel wat hy opdra aan almal wat gedurende die Covid-19-pandemie gesterf het.
"Die enkelsnit was 'n geskenk vir myself. Dit is vrygestel op my 30ste verjaarsdag, 29 September," het hy gesê.
Dié Kaap-gebore musikant kom oorspronklik van Manenberg, maar het hom intussen in die Tuinroete gevestig. Leonard is pas getroud en geniet sy werk by George High se musiekdepartement.
Rus in vrede
Volgens Leonard is sy enkelsnit aanvanklik geïnspireer deur ‘n Kaapse jazzkitaarspeler, wyle Errol Dyers.
“Dit is aan hom opgedra om hulde te bring aan sy nalatenskap, maar het nuwe betekenis in die pandemie gekry. Ek kon nie anders om dit op te dra aan almal se geliefdes wat gedurende die pandemie gesterf het nie. Die lied lok 'n diep emosie van verlange en herinnering aan 'n geliefde. Dit bring jou tot stilstand om eerbied aan jou geliefde te toon, en te sê: ‘Mag hul siele in vrede rus’.”
Leonard werk vanuit ‘n tuisstudio en neem sy eie musiek op. “Ek gebruik ander musikante om sekere gedeeltes neer te lê en dan stuur ek en my vervaardiger die musiek oor en weer tot ons tevrede is met die eindproduk.”
“My skryfproses is maklik want ek skryf van 'n diep emosionele plek. Ek is verskriklik in voeling met my emosies en laat myself toe om te voel wat my hart vir my sê. Ek skryf dus uit my hart en nie uit my denke nie. Dit is dan wanneer musiek die diepste emosies ontgin.”
Op ‘n vraag oor sy dryfkrag en sy daaglikse inspirasie het Leonard die volgende geantwoord. “Ek leef volgens my God gegewe "purpose". Dis wat my dryf en elke dag uit my bed laat opstaan. My "purpose" het baie te doen met my werk by die skool om met die volgende generasie van musikante te kan werk. En dan natuurlik my vrou Jasmene is die grootse dryfkrag agter alles wat ek doen, sy ondersteun my 100% so ek wil haar nie teleurstel nie.”
Wanneer Leonard nie optree nie, hou hy daarvan om ‘n film te kyk, hy slaap graag en hy geniet plesierritte vir ontspanning.
‘n Beter ‘ek’
Die pandemie het Leonard ‘n kans gegun om ‘n nuwe begin te maak: “Waar ek sekere dinge in die lewe en sy mense vir vanselfsprekend aanvaar het, moes ek oor alles nadink en regmaak waar ek verbrou het. Nou strewe ek om ‘n beter ‘ek’ te wees.”
Sy boodskap van hoop in onsekere tye is die volgende: “Hou Jesus Christus nommer een in jou lewe en handhaaf 'n gesonde gebedslewe want dit is waar jou krag lê. Glo in jou drome, want as jy nie daar in glo nie sal niemand daarin glo nie.
"Belê in jouself, lees daai boeke oor sukses, studeer, omring jouself met mense wat jou drome ondersteun en breek weg van negatiewe mense en dinge wat jou planne in die wiele wil ry. Bou goeie en gesonde verhoudings met mense en leef in vrede met amal.”
Leonard bedank Karien de Waal van Join Bands Not Gangs en sy vervaardiger, MrRee Studios.
Luister na sy musiekvideo hier.
"Ek skryf uit my hart en nie uit my denke nie. Dit is dan wanneer musiek die diepste emosies ontgin." - Germaine Legend
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'