TUINROETE VERMAAKNUUS - Jannie du Toit bring op 18 en 19 Desember sy gewilde vertoning, Die Eggo van jou oë, wat ook Kersliedere insluit, na George en Stilbaai.
Saam met hom op die verhoog is Susan Mouton (tjello) en Chanie Jonker (klavier). Kaartjies beskikbaar by die George-kunsteteater en Computicket. Die vertoning is deel van 'n uitgebreide Kaapse toer.
Die groep verf met die wonderlike klankkleure wat die sonderlinge kombinasie van lewendige instrumente bied - soms aangevul met die melancholiese klanke van die akkordeon. Jannie sing van sy heel jongste liedjies maar ook van sy vroeëre werk, ook folk-musiek van die sestiger- en sewentigerjare en die beste uit die Afrikaanse en Europese kleinkunstradisie.
Die program word afgesluit met ’n aantal liedere uit sy program In Kersfeestyd 2019.12.06
Luisteryke loopbaan
Jannie du Toit het van 1986 af vir 25 jaar saam met die vermaarde pianis en komponis, wyle Christa Steyn, op die verhoog, in ateljees en as skeppende kunstenaar saamgewerk en wêreldwyd getoer.
Hy volg ’n musiekloopbaan na regsopleiding en taalstudies en is lid van die groep Trilogie wat in 1973 met vernuwende klanke op die Afrikaanse musiektoneel verskyn het. Hy skryf van die begin af sy eie liedjies en maak sy solo-debuut met die album ’n Liedjie vir jou in 1981.
Sedertdien volg talle verdere uitreikings op langspeelplate, CD’s, DVD’s en versamelalbums. Sy twintigtal eie albums sluit die musiekblyspele Loeloeraai (1984) en Gansdans (1986) asook ander verhoogproduksies in: Skadu’s teen die Muur (1992), De Kleine Man (1994), Jannie en die Tannie (2007), Onderweg (2011) en Doep is nie dood nie (2014).
Die jongste CD’s oor die afgelope paar jaar bevat die musiek van sy helde Jules de Corte, Jacques Brel en Lucas Maree – laasgenoemde saam met die sanger Thean Kotze. In November 2018 het hy ’n splinternuwe cd met die titel ‘Oesjaar 2018’ bekendgestel met uitsluitlik sy eie liedjies.
Jannie kan tans op RSG en op kykNET gevolg word. Op RSG word sy program oor die kleinkuns – Edelwyn – elke Sondag om 10:05 uitgesaai, nog tot en met Sondag 29 Desember.
Jannie se produksies Bonjour Monsieur Brel en Kiekies – Lucas se liedjies is eersdaags op kykNET en kykNET NOU te sien. Brel op Sondag 1 Desember en Kiekies op Sondag 29 Desember: 10:30 op kykNET en 12:00 op kykNET NOU.
Woensdag 18 Desember
- DIE EGGO VAN JOU Oë + Kersliedere
- Plek: George Arts Theatre
- Tyd: 19:00
- Bespreek by: Computicket of by teater
Donderdag 19 Desember
- DIE EGGO VAN JOU Oë / THOSE WERE THE DAYS
- Plek: Jongensdal (Stilbaai)
- Tyd: 18:30 vir 19:30
- Bespreek by: Ria 082 496 1573
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'