SUID-KAAP NUUS - Die advertensie vir die Klein Karoo Klassique-konsert Vivaldi se Vier Seisoene Herbesoek het my belangstelling gewek. Die bekende klassieke werk gekomponeer vir 'n simfonie-orkes, opgevoer deur slegs drie instrumente - en een van hulle is 'n elektroniese baskitaar. Kan dit werk?
Die eerste klanke besweer die vrese. Hierdie trio wil nie die gees van die musiek verander nie. Dit klink rég. Die uur wat volg is 'n fees van verlekkering. Viool en akkordeon bring saam 'n klank voort wat verbasend baie na 'n simfonieorkes klink. Die elektroniese bas slaag ook bo verwagting goed daarin om tot die dieper klanke van die orkes by te dra. Tog is dit net anders genoeg om 'n mens se ore gespits te hou en die nuwe klank te geniet.
Vivaldi het 'n sonnet geskryf vir elke seisoen, en Joubert het elkeen voorgelees voor hulle die musiek speel. So volg 'n mens die gebeure wat deur die musiek uitgebeeld word, beter. Die feit dat daar na elke beweging 'n kort ruspose was, het ook gehelp dat die onkundige luisteraar tred hou en beter identifiseer met die musiek.
Elkeen van die kunstenaars is ervare en deeglik onderlê in die tradisie van sy instrument. De Beer (viool) en Angelov (akkordeon) het klassieke opleiding en werk gereeld saam in verskillende genres, terwyl Joubert (bas) baie ervaring in 'n wye verskeidenheid populêre style het. Al drie tree gereeld saam met hoofstroommusikante op.
Dit was De Beer se idee om met hierdie keuse van instrumente, klassieke musiek na die publiek in die uithoeke van ons land te bring. Kan dit werk? Ja, dit werk beslis. - Resensie deur Liryke Ferrreira
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'