GEORGE NUUS - George se eie Duran Ruiters sê sy jongste rol in die Afrikaanse teaterproduksie, Waar is jy, Botterblom? het hom as akteur tot nuwe hoogtes geneem en hom ver buite sy gemaksone gedwing.
Ruiters vertolk die rol van Jamey, 'n karakter wat met post-traumatiese stresversteuring (PTSV) leef. Volgens hom het die emosioneel veeleisende rol baie van hom geverg, maar glo hy die suksesvolle vertolking sal nuwe geleenthede in sy loopbaan skep.
"Om die karakter van Jamey te vertolk was 'n voorreg," sê Ruiters. "Hy het my geleer dat die kragtigste toneelspel nie net gesien word nie, maar gevoel word. Elke repetisie, elke opvoering en elke oomblik op die verhoog het my herinner hoekom ek hierdie kuns so liefhet."
Die toneelproduksie, geskryf deur Duandré Vorster, vertel die verhaal van vier kinders wat ná 'n tragiese ongeluk hul ma verloor en saam met hul verlamde pa moet grootword. Terwyl elkeen die verlies op sy eie manier verwerk, probeer Anna uiteindelik deur haar storie en optrede weer vrede bring, wat tot 'n emosionele einde lei.
Ná die première op 23 April in Potchefstroom is Waar is jy, Botterblom? op 15 Mei ook in Bloemfontein opgevoer, waar gehore die produksie met groot waardering ontvang het.
Duran Ruiters. Foto: Verskaf
Ruiters, 'n oudleerder van Hoërskool George wat in 2023 gematrikuleer het, het reeds naam gemaak in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf. Hy is bekend vir sy rol as Steven in die e.tv-reeks Kelders van Geheime en het ook verskyn in Kings of Jo'burg, Juffrou X, Agter slot en grendel, Ouma Sarie, Tuiskoms, Aunty Sylvia en die rolprent Verlore Liefde.
"Ek is ongelooflik dankbaar teenoor God vir hierdie geleentheid. As ek terugkyk op my vyf jaar in die drama- en toneelbedryf, kan ek eerlik sê dat hierdie produksie vir my uitgestaan het. Nie net oor die storie nie, maar oor hoe dit my uitgedaag, gevorm en laat groei het."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’