Oor tee en koeksisters het Marian Hooman tydens ‘n heerlike geselsie by die George Herald vertel van haar "shack" op Wildernis en haar rol in die befaamde rolprent District 9.
Marian, wat reeds jare lank toneel speel, het die rol van Sandra van der Merwe losgeslaan. Sy vertel hoe sy tydens die oudisie ‘n bekommerde Afrikaanse vrou moes speel, wat pas hoor haar en haar man se kind is oorlede. Marian is ook nie links nie en val toe weg met ‘n angstige "maar Pappa, wat nou?". Sy lag tog te lekker wanneer sy vertel hoe haar medespeler vinnig die trant opgetel het en haar daarna end-uit "ge-Mamma" het.
"Die fliek herinner my baie aan die Franse Comédie de l’art," verduidelik Marian.
"Hulle sê net vir jou dis wat gebeur het, en dan moet jy self sê wat jy dink gaan pas. Jy kan rêrig jou eie woorde opmaak en uit jou gut speel. Dit was wonderbaarlik bevrydend," vertel sy.
Volgens Marian het hulle met haar "ba-klei" op die stel omdat sy glo gesukkel het om met ‘n tipiese Suid-Afrikaanse aksent Engels te praat. "Maar dit was ‘n ervaring van ‘n leeftyd," sê sy.
Marian was verlede Saterdagaand ‘n gas op die KykNET-program Glitterati, waar sy in onderhoud met Giliam Winkler gesels het oor haar wedervaringe op die stel.
Sy is tans besig om saam met Willie Esterhuysen (van Vetkoekpaleis-faam) aan "iets" te werk en kan nie uitgepraat raak oor Willie se heerlike werkstyl nie.
"Hello, skiet jy?" vra Marian die draaiboekskrywer toe sy hom gou-gou bel om te hoor wat sy alles mag verklap. "Willie het heel tong in die kies gesê ek moet op Glitterati vertel van ons video, maar my dogter het my die dood voor oë gesweer," vertel sy grapperig.
In haar eie woorde is Marian se tentakels vasgeslaan in Wildernis se grond, waar sy een keer per maand saam met haar man kom hare losmaak.
"My lewe is in Gauteng, maar my hart is hier," sê sy.
"Dis ‘n rouproses elke keer as ek moet teruggaan, daarom ry ek eerder - dit gee my tyd om die verlies te verwerk."
Hul huisie is net voor dié van die akteur Flip Theron, wat reeds jare op Wildernis bly. Haar kreatiewe dogter Amanta het haar eie plaaslike advertensie maatskappy en die ander dogter Ulona modelleer skoene in Frankryk.
Die veelsydige aktrise is nie alleen tuis op die verhoog nie, maar het is ook ‘n ge-kwalifiseerde afslaer en die skrywer van kinderstories.