GEORGE NUUS - Verlede Donderdag, 9 Mei, was vir George-leeskring ‘n baie spesiale geleentheid met die bekende dr. Daniël Hugo wat met die gehoor gesels het oor een van sy jongste vertalings vanuit Nederlands na Afrikaans, naamlik Ek kom terug, geskryf deur Adriaan van Dis.
Hugo is bekend as digter, vertaler, resensent, dosent en programaanbieder van die Afrikaanse radio se letterkundige programme. Hy het ook uitgebrei oor sy werk as vertaler. Almal het sy gemaklike en vriendelike aanbieding baie geniet.
Na die aanbieding, terwyl almal nog lekker gekuier het en persoonlik met Hugo kon gesels, het sy vrou Marlene van sy digbundels en vertalings, wat romans en kinderboeke insluit, teen ‘n welkome afslag verkoop.
Elmine Vorster van die George-biblioteek is bedank vir die ondersteuning deur middel van ‘n uitstalling in die biblioteek asook met die byeenkoms waar sy waardevolle koerantuitknipsels oor Hugo ten toon gestel het. Dit was ook vir die leeskring aangenaam om Rachel Williams, hoof van George se biblioteekdienste, as besoeker te verwelkom.
George-leeskring vergader een maal per maand. Besoekers is altyd welkom. Belangstellendes kan Elizabeth Retief bel by 044 871 5117 vir meer inligting.
George-leeskring se voorsitter, Elbie Schoeman (links) saam met Elmine Vorster, naslaanbibliotekaris by die George-biblioteek, by 'n uitstalling van koerantuitknipsels oor Daniël Hugo.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'