GEORGE NUUS - Kom herlaai jou battery na 'n hele jaar se harde werk in die buitelug.
Vir meer as agt jaar wag aanhangers van die film, Klein Karoo, reeds om uit te vind wat het serdertdien in die lewens van Frans, Cybil, Bongi, Jackie en die res gebeur het.
Die wag is uiteindelik verby en Klein Karoo 2 word spesiaal tydens 'n buitelugvertoning op Sondag 19 Desember, na die Acropolis Venue by Olympia Estate op die R404 naby Blanco, gebring. Die vertoning begin om 19:00.
Bring jou eie stoel en kombers en geniet die aand ten bate van die DBV.
"Ons vra namens die diere om ons te kom ondersteun. Kaartjies kos slegs R80 en piekniekbokse met heerlike eetgoed, sal ook teen R80 per persoon aangebied word. Jy gaan ’n groter verskil maak deur die aand by te woon as net om ’n fliek te kom geniet," sê die Tuinroete-DBV se Rika Bouwer.
In die film word Frans, 'n 38-jarige dokumentêre regisseur, gedwing om 'n tree terug te neem en sy lewe te herevalueer nadat hy onverwags vir die tweede keer voor die kansel gelaat is.
Frans kom gou agter dat dinge eintlik erger kan word. Die regte soort liefde kom net een keer in 'n leeftyd. Sal Frans probeer om nog ’n vrou te red, of sy hart volg na waar hy verlang word?
Wat gaan van Frans word? Kom kyk op 19 Desember by 'n buitelugvertoning by die Acropolis Venue naby Blanco.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'