GEORGE NUUS - Georgiete wat die tweede seisoen van kykNET se Plaasjapie-realiteitsreeks volg, het nou al deeglik kennis gemaak met Pacaltsdorper André Mouton. Daar was al ses episodes en André is steeds in die prentjie as deel van die toptien deelnemers wat nog nie uitgestem is nie.
Vanaand, Donderdag 30 Mei, om 20:00 word episode 7 uitgesaai.
Deelnemers se mikpunt is om so lank as moontlik te sorg dat hulle span hulle nie uitstem nie in die hoop om as wenner van die groot prys van R1 miljoen uit te tree. Ses deelnemers het reeds die trekpas gekry.
André, wat deel is van die Oranjezicht-span (die ander span is Groenkloof), sê sy strategie tot dusver was om laag te lê, nie te veel te wys wat hy weet of kan doen nie, maar nog steeds te wys dat hy waardevol en 'n aanwins is.
"Daar is regtig 'n baie fyn lyn. As jy te veel weet, doen en handig is, word jy as 'n bedreiging beskou deur ander deelnemers en hulle maak planne om van jou ontslae te raak deur jou uit te stem.
"Later in die spel moet julle teen mekaar deelneem en dan nie meer in spanformaat nie. Aan die ander kant as jy nie veel beteken of nie waarde aan die span gee nie, word jy weer beskou as 'n swakkeling.
"So ja, dit was regtig nie maklik om daardie fyn lyn te handhaaf nie. Ek het nie sommer begin alliansies maak nie en my opsies oopgehou. Ek het eerder gewag dat mense my nader in plaas daarvan om dit eerste voor te stel.
"Deur dit te doen, het ek meer opsies gehad en kon ook uitvind wat in ander alliansies aangaan. Die spel begin wel 'n hele ander wending neem wanneer spanne saamsmelt of uitgeruil word van een span na 'n ander."
André en Edwin van der Walt, 'n inhoudsregisseur van die Plaasjapie-reeks.
Hy wil niks verder verklap nie. Daar is nog ongeveer agt episodes oor en Georgiete word aangemoedig om George se eie Plaasjapie te ondersteun deur die program te volg en te kyk hoe hy probeer om die ander deelnemers te uitoorlê.
André, van nature 'n bietjie teruggetrokke en stil, is 'n padskraperoperateur van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit. Hy sê dit was 'n ondervinding waaroor hy nie spyt is nie. Die plaaswerk was taai, maar die emosionele sy van die ervaring was vir hom 'n groter uitdaging om mee te deel.
"Ek het baie lewenservaring opgedoen. Ek sal dit vir almal aanbeveel wat hulleself wil uitdaag en om so 'n bietjie uit hulle gemaksone te kom," sê hy.
Die program word op Donderdagaande om 20:00 op kykNET se kanaal 144 vertoon.
Saam met die aktrise Milan Murray, een van die inhoudsregisseurs.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’