GEORGE NUUS - Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die Vriende van Afrikaans by die ATKV, was op Woensdag 26 Maart by Wordsworth in George vir die bekendstelling van die eerste twee boeke uit haar debuut Xavier en Kendrick-kinderboekreeks.
Die eerste boekie, 'n Rand vir 'n tand, het verlede jaar verskyn en Huisies vir muisies vroeër vanjaar.
Van der Merwe is 'n bekende in George se Afrikaanse kringe want sy werk nou saam met die Sommer Net Ons ATKV-tak van Pacaltsdorp, wat die bekendstelling aangebied het.
Gaste kon na 'n interessante onderhoud met die skrywer luister, gelei deur Sommer Net Ons se voorsitter, Beverley McKelly.
Van der Merwe is passievol oor die bevordering van lees onder jong kinders en is in 2022 met 'n Kokertoekenning van die Afrikaanse Taalraad vereer vir bemagtiging deur Afrikaans. Haar werk behels onder meer leesontwikkelingsprojekte, voorlesings aan kinders, en die uitdeel van boektrommels.
Sy glo geletterdheid is die brug van ellende na hoop en dit is haar missie om aan kinders die geleentheid te bied om uit hul ellende te kom deur gesonde leesgewoontes, veral onder leerders aan primêre skole.
FOTOGALERY: Sien 'n fotogalery van die geleentheid.
In Huisies vir Muisies leer twee boeties, Xavier en Kendrick, van kleins af dat die buitelug en oefening goed is vir jou. Daarom gaan ry die twee graag fiets in die veld terwyl Mamma, Tannie en Oom saam met hulle stap om die natuur te geniet en te sorg dat hulle veilig is. Dis hier waar die seuns op ’n dag ’n veldmuisie teëkom, en deur dié diertjie leer dat jy van kleindag af ewe goed vir jou tande as vir jou lyfie moet sorg.
Van der Merwe vertel dat sy graag vir kinders wil leer om mooi na hulself en die omgewing te kyk.
"’n Liefde vir diere is ook iets wat van jongs af by kinders tuisgebring moet word. Kinders moet oor empatie en simpatie geleer word sodat ons gemeenskappe kan bou wat omgee.
"En dan bly dit natuurlik ’n bonus as dit ’n lekker storie is wat kinders kan geniet en binne hul verwysingsraakwerk is."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’