Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Thelma Heyns staan in die George-gemeenskap bekend as die bekoorlike sangeres wat meestal optree saam met haar man, Jovan Heyns. Maar sy sal voortaan bekendstaan as advokaat Heyns aangesien sy op Vrydag 14 September toegelaat is as advokaat by die rondgaande hooggeregshof hier in George. Na nege jaar se studies en etlike jare wat sy ingeskryf was by advokaat Tinus Lotz se praktyk in George, kan sy begin praktiseer.
Die verheugde Thelma vertel: "Dit was vir my vreeslik spesiaal dat die seremonie in George plaasgevind het aangesien George die plek is waar ek grootgeword het en die dorp was wat ons nog altyd in alles ondersteun het.
"Ek het altyd geweet ek wil eendag 'n regsberoep volg en natuurlik was my droom om 'n advokaat te wees, maar die lewe het ander paaie met ons gestap. By ons bedoel ek nou ek en Jovan. Ek is so bevoorreg om 'n ongelooflike groep mense om my te hê wat my so geweldig ondersteun. My ouers, my familie en natuurlik Jovan. Die Lotz-familie het ook 'n groot aandeel gehad in alles die laaste tyd en ek is ook bitter dankbaar vir hulle in my lewe."
Sing in Indië
Die afgelope drie jaar het die Heynse telkens 'n draai in Indië gaan maak waar hulle in die Grand Hyatt opgetree het. "Maar net so voor als nou vreeslik ernstig raak en ek myself toegooi (hopenlik) onder lêers en lêers se regswerk gaan ons nog vir oulaas in Indië optree. Ons vertrek weer binnekort vir 'n paar maande waar ons eers vir 'n ruk in Chennai en dan in Goa gaan sing.
Veelsydigheid
Dis maar moeilik as jy van so baie dinge hou en geleentheid het om alles te doen waarvan jy hou. Hoe kies jy en hoe beperk jy jouself? Mens lewe net een keer en ons filosofie was nog altyd doen alles en kry soveel as moontlik ondervinding in die lewe, want dit is iets wat niemand nooit van jou kan wegneem nie." Thelma het ook in haar tienerjare haar lyf model gehou.
Kyk 'n video hieronder.
Pad met klippe besaai
Sy vertel: "Na skool sou ek dadelik gaan studeer, maar toe skryf ons in vir die talentkompetisie, Zing, die Desember voor ek na universiteit sou vertrek. Ons het nooit gedink dat ons so ver sou vorder nie. Nadat Zing verby was en Jovan sy droom gevolg het om sy vlieglisensie te bekom, het ek maar ingeskryf vir Idols om myself besig te hou vir die res van die jaar. "Die jaar daarna het ons begin toer en sing regoor SA. Dit is toe dat ek deeltyds begin studeer het.
"Ek moes 'n paar keer eksamens uitstel as gevolg van ons toerskedule en toe begin ons oorsee sing. Dit was natuurlik 'n ondervinding en geleentheid waarvoor ons nie wou nee sê nie. So het die studies aangeskuif, maar ek het geweet, eendag op die regte tyd sal dit tog gebeur. En hier is dit nou! Dit voel ietwat vreemd om in 'n swart toga uit die hof te stap."
Thelma wat nog nooit moeite gehad het om gefokus te wees nie (sy het self een keer op kort kennisgewing in samewerking met haar man, Jóvan, 'n Erfenisfees vir George gereël kompleet met Johnny Clegg as trekpleister). Haar spesialis vak is mediese-nalatigheid, maar Thelma voel sy gaan haar beslis nie hierdeur aan bande laat lê nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'