Volgens Brett Pyper, uitvoerende hoof van Kuns Onbeperk was daar 'n sewe persent styging teenoor verlede jaar in kaartjieverkope vir teaterproduksies en was daar ook 'n "aansienlike styging" in die verkope van visuele kuns by vanjaar se fees.
Pyper het Maandag die voorlopige bywoningsyfers van die Absa KKNK wat Saterdag ten einde geloop het, bekendgemaak.
"Vanjaar het ons groter programaanbod in teaters wel tot 'n verhoging in kaartjieverkope gelei, en verkope vir produksies was amper sewe persent hoër as in 2012. Omdat die groot opelug musiekkonserte by die fees rondom die twee naweke gekonsentreer is en nie tydens weeksaande aangebied is nie, is dié komponent van kaartjieverkope kleiner as in vorige jare.
Baie meer feesgangers het gebruik gemaak van die afslag weekpakket om die gewilde Rivierbuurt by te woon. Stalletjiehouers het oor die algemeen baie goeie verkope hier gerapporteer."
Stalletjies en die verhoë by die Rivierbuurt was hierdie jaar ook langer oop as verlede jaar en besoekers kon saans tot 22:00 by stalletjies rondsnuffel.
Volgens hom was die algemene bywoningsyfers van die fees 2,4 persent hoër as verlede jaar en is hulle baie tevrede met die syfers. Hy het bygevoeg dat hy die feespubliek hartlik wil bedank vir hul volgehoue ondersteuning. Volgende jaar se Absa KKNK behaal die 20-jaar mylpaal en die feesdatums sal in Mei bekendgemaak word.
Brett Pyper, uitvoerende hoof van Kuns Onbeperk het Maandag aangekondig dat kaartjieverkope by vanjaar se Absa KKNK beter was as verlede jaar en dat verkope van visuele kuns ook verbeter het. Hier is Pyper in gesprek met Coenie de Villiers tydens die opening van die Absa visuele kunsuitstalling.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR