Dit was 'n kommerlose en prettige affêre wat bestaan het uit heerlike kos, kuier, kuns en kultuur. Die goeie nuus is dat die Oppiwater Kunstefees - 'n jaarlikse instelling gaan word. Hier kry jy ook die kans om Afrikaans ten volle, volkome te geniet en uit te leef. Jy ry behoorlik op die golwe van Afrikaans, omring deur gawe RSG-luisteraars.
Al die kunstenaars, van Sandra Prinsloo tot Laurika Rauch, die twee Kose, (Kombuis en Van der Merwe), Kobus Muller, Verna Vels, Hannes Muller en ook Alwyn Oberholster het almal uitmuntende aanbiedings gelewer, en hulself oortref, met vele staande ovasies tot gevolg! Al die verskillende vertonings het vol sale getrek. 'n Mens word werklik verryk deur al die talent.
Die afstand tussen Durban en die Portugese Eiland is 313 seemyl. Vanaf Durban vertrek ons van die N-kaai op 'n vierdaagse bootreis via Maputo na die Portugese Eiland en skop af met 'n onvergeetlike wegvaartpartytjie. Daar word gereeld tot laatnag op die dek geskoffel.
Ons is ook vermaak met vertonings uit die boonste rakke. Dit het ons beïndruk om te sien hoe die talentvolle personeel en kunstenaars van MSC, hul werk met soveel toewyding verrig.
Die kaptein se spesiale Gala-aand met briljante Spaanse dansvertoning, aangebied deur die vaart-direkteur Derrick van Wyk, was een van die vele hoogtepunte op die vaart en het die asems behoorlik weggeslaan. Nadat ons Ponta do Oura verby is, vaar ons Mosambiekse waters binne. Net verby die Inhaca Eiland bereik ons Maputo (Mosambiekse) hawe, waar ons anker lê. Die afstand tussen Maputo en die Portugese Eiland is 18 seemyl. 'n Besoek aan die varsprodukte-mark hier, was indrukwekkend.
Goed georganiseerde bustoere het verseker dat ons genoeg tyd toegelaat was om ook Maputo se sentrale sakegebied te verken. (Kostes per rit is $15.90.) Dis ook hier op die plein waar daar 'n lewensgrootte standbeeld van Samora Machel pryk. Hierdie standbeeld is op 19 Oktober 2011 onthul - 25 jaar na sy dood. Ook Radio Mozambique (oorspronklike LM Radio) kan hier besigtig word. Ons volgende stop om die Portugese Eiland te besoek was 'n unieke ervaring. Dit was avontuurlik, dog heerlik om met die rubberbootjies oor die golwende branders en hoë deinings tot by die Portugese Eiland geneem te word. Die helder skoon water hier is ideal vir snorkel.
Die vele stalletjies, reg daar op die sand het groot aftrek gekry met al die veelkleurigheid en kon jy na hartelus jou kooplus bevredig.
Twee eilande lê 32 km oos van die Mosam-biekse hoofstad van Maputo. Inhaca is die grootste, 12 km lank en 7 km wyd. Portugese Eiland in die baai van Maputo is bekend se-dert die 14de eeuse Arabiese-handelsdae.
In 1545 het Portugese jagters en handelaars die klein eiland langs Inhaca as hul handelshoofkwartier vir ivoor gebruik.
Dit het toe bekend geword as die Eiland van die Portugese en is beveilig teen indringers. Hierdie klein eiland het 'n groot rol gespeel in die uitdunning van olifante in Afrika. Dit is later ontruim in die guns van Lourenco Marques en is dit die Portugese Olifant Eiland genoem, wat later verkort is na Portu-gese Eiland.
Hierdie unieke vakansie bied aan een en elk al die heerlikhede van 'n genotvolle bootreis en nog vele meer.
Met die treintjie-dans kon enigeen net aan hak en saamdans.
(Artikel deur Corrie Laubscher)