“Zolani en Bobby is meesters op die verhoog en Albert is ’n fantastiese blues-musikant. En dan is daar ook Nick Turner. Hy is uniek en briljant en is nou terug in Suid-Afrika na hy ’n professionele musikant in Washington was. Al lê die berge nog so blou is reg in sy kraal aangesien hy tans by Solms Delta werk aan ’n projek vir die behoud van inheemse Kaapse musiek,” vertel Joubert. Benewens dié bekendes word van Oudtshoorn se eie musikante ook betrek.
Waar Al lê die berge nog so blou in ’n intieme venue opgevoer word, word die ander vier konserte in die buitelug onder die Klein Karoo sterre opgevoer. Klein Karoo Jazz, Huisgenoot Afskop, kykNET Silwerskerm Pops en Son Top 40 Mix Masala word almal by die Musiekplaas in Voortrekkerweg gehou en daar is net een vertoning van elk.
Musiekregisseur en jazz-musikant Melissa van der Spuy is aan die stuur van Klein Karoo Jazz. Sy is baie opgewonde oor dié konsert en die feit dat die “wie’s wie” van Suid-Afrikaanse jazz-musikante op 10 April die verhoog gaan deel: “Melanie Scholtz en Sibongile Khumalo is maar net die begin. Sima [Simanagele Mashazi] het by ons aangesluit en dan is daar nog Marcus Wyatt en Louis Mahlanga – én Nomfusi.” Die Absa KKNK is ’n vinnige heen-en-weertjie vir Nomfusi na haar optredes in Austin, Texas voordat sy vertrek op ’n toer deur Europa.
Van der Spuy is ook betrokke by Huisgenoot Afskop en vertel dat dié konsert ook ’n paar verrassings inhou. Hoewel die finale program nog nie bevestig is nie, gaan Karen Zoid onder meer saam met Kurt Darren sowel as Francois van Coke ’n paar liedjies sing. Een van die liedjies wat sy saam met Francois van Coke gaan doen, is Tot die son uitkom wat hulle op Die Republiek van Zoid-Afrika gesing het.
kykNET Silwerskerm Pops is die groot extravaganza op die program. Laurika Rauch, Joshua na die Reën, Zanne Stapelberg, Bok van Blerk en Richard van der Westhuizen is van die sangers wat saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes optree. Dit word beskryf as die Absa KKNK se nie-amptelike 21ste verjaardagpartytjie.
Laaste maar nie die minste nie is die Son Top 40 Mix Masala, ’n musikale allegaartjie van op-en-wakker liedjies soos Loslappie en Waka Waka. Kurt Darren tree ook in dié konsert op sowel as Emo Adams, Andriëtte Norman, Loukmaan Adams, met seremoniemeester, Christo Davids.
Drie van dié konserte – Klein Karoo Jazz, kykNET Silwerskerm Pops en Son Top 40 Mix Masala – is ingesluit by die Randrek-pakkette wat dit vir gesinne moontlik maak om teen afslag die konsert by te woon en heeldag in die Rivierbuurt te kuier.
Kaartjies vir die 21ste Absa KKNK is by Computicket, Shoprite, Checkers of House & Home beskikbaar. Kaartjies kan ook aanlyn by www.computicket.com of telefonies by 0861 915 8000 gekoop word.