GEORGE NUUS - Dr. Melodie de Jager, stigter van die Mind Moves-instituut, was op Donderdag 16 April in George een van die sprekers by die bekendstelling van 'n gespesialiseerde bewegingsprogram wat sy vir seniors ontwikkel het.
Die bewegings is eenvoudig maar effektief om versnelde veroudering teen te werk deur breingesondheid te verbeter en die vermoë om te beweeg te versterk. Op die lange duur lei dit tot 'n beter lewenskwaliteit en onafhanklike funksionering vir langer.
"Die doel met Senior Mind Moves is om mense in staat te stel om aan te hou om sinvol te leef, betrokke te bly by die samelewing en nog 'n verskil te kan maak," het De Jager gesê.
Die geleentheid is bygewoon deur fisioterapeute, susters en bestuurders van aftreeoorde van oor die streek. Volgens Ronel Gultig, verpleegbestuurder van Tuiniqua-versorgingsentrum en die eerste opgeleide Senior Mind Moves-fasiliteerder in die Tuinroete, is die uiteindelike visie om soveel moontlik fasiliteerders hier op te lei sodat meer senior burgers daarby kan baat.
Volgens De Jager het 'n studie van mense tot die ouderdom van 90 jaar bewys dat die brein steeds op 'n baie hoë ouderdom kan hernu. Dit word bevestig deur die bewegingsprogram waarby baie ouer mense al groot baat gevind het. Dit help ook mense na 'n beroerte herstel.
Die program sluit gesig- en oogoefeninge in, waarop De Jager in haar praatjie gefokus het. Sy het gesê gesigoefeninge vir ouer mense is belangrik om kou- en eetvermoë, sowel as 'n positiewe lewensuitkyk, te verbeter. Goeie tandversorging is belangrik sodat die vermoë om taaier kos te eet, behou word want dit stimuleer die gesigspiere, bevorder beter voeding en help om sosiale selfvertroue te behou.
De Jager, wat 'n doktorsgraad in toegepaste neurowetenskap het, het haar loopbaan begin as 'n privaat voorskoolse onderwyser en hoof en het die Mind Moves-program aanvanklik vir kinders ontwikkel. Toe haar ma oud word, het sy dit begin toepas en die resultate was so positief dat sy die Senior Mind Moves-program geskep het.
Johannie Louw, Senior Mind Moves se programleier, het ook as spreker opgetree en verskeie voorbeelde gegee van die positiewe impak van die program op seniors.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’