Desember was die Karoo se stempel duidelik op my Gauteng-Kerskous te sien: 'n verkyker en sonskerm, natuurlik.
Die verkykertjie is klein, maar moet hom nie onderskat nie! Ek kon Boer Soek 'n Vrou op my buurvrou se televisie kyk. Dink julle nie ook Boer Graham en sy Ilne is te oulik nie? No pressure, Boer Graham, maar die Advertiser sal graag die troue wil live tweet. Sê net waar en wanneer.
Toe ek moeg word vir op my bure spioeneer, het ek en my 'kykertjie tuin toe beweeg om die voëls te verken. Néé, nie die Mango's en Flysafairs van OR Tambo nie, regte voëls, soos die Sasol-boek hulle skets.
Kyk, ek kan baie dinge hanteer, maar 'n hadeda is nie een nie. "Haa-haa-haa-de-dah". My boetie het vir so twee nagte in die tuin gekamp (soos Gautengers maar doen). Dag drie was hy terug in die huis. Hadeda een punt, boetie nul.
Nog 'n inwoner van die tuin is 'n geel Kaapse wewer.
Miskien is hy ook met vakansie in Kemptonpark?
Ons gesin het nogal geheg geraak aan die outjie, aangesien hy een van ons bome (moenie vra watter tipe nie, ons het nie daardie Sasol-boek nie) gekies het om sy nes in te bou.
Na dae se harde werk sien ons die nessie is weg, en Wian die wewer bou weer. Volgens my informante is Wian al op sy derde nes, met geen teken van 'n geveerde vriendin om in sy nuwe woning in te trek nie.
Ek het intussen geleer dat wewers miskien 50 neste 'n seisoen sal bou, omdat hulle vroutjies wil lok, en dié net van vars neste hou. Praat van high maintenance.
Liewe leser, voorspoedige 2020. Mag jy vanjaar die geduld van 'n wewer hê, die standaarde van sy pasmaat, en die selfversekerdheid van 'n hadeda.