Daar's geen tyd soos pandemie-tyd om mense se ware kleure te sien nie.
Ek noem nie name nie, maar in Bel Paese sing bure pragtig vir mekaar vanaf hul balkonne van self-isolasie, terwyl meer video's versprei van Uncle Sam en Down Under wat baklei oor toiletpapier. Let wel dat die verdagtes se trollies reeds oorloop van toiletrolle, geblikte bone en seep. Ek wonder of panic shoppers besef dat ander mense ook hulle hande moet was om te verhoed dat die gevreesde kiem versprei?
Natuurlik gaan daar pandemie-paniek wees, ons is almal immers mense, bekommerd oor gesondheid.
Klem op "ons almal is mense", so moet asseblief nie die Corona-krises as 'n verskoning gebruik om rassisties of xenofobies te wees nie - daar is nooit 'n verskoning daarvoor nie.
Toe die president die krisis as 'n nasionale ramp verklaar, het hy gesê hierdie is Suid-Afrika se Thuma Mina (stuur my)-oomblik. "Hierdie krisis sal verbygaan," het hy gesê, "Maar ons sal bepaal hoe lank dit gaan duur en hoe skadelik dit gaan wees."
Terwyl ons almal deeglik hande was en die massas vermy, sal dit ook nie seer maak om empatie te toon teenoor ons medemens nie - of hulle nou hier, in 'n anders straat, stad of land is.
Dankie aan plaaslike dokters en verpleegsters, wat nie huiwer om steeds hul belangrike werk te verrig nie. Dankie aan plaaslike besighede en organisasies wat se deure steeds oop bly, en aan die onnies wat planne in plek stel sodat leerders op datum bly. The show must go on.
Wanneer jy moeg raak van Happy Birthday sing terwyl jy jou hande was, probeer Tomorrow van die musiekblyspel Annie. Dit duur ook 20 sekondes, en gee ons moed dat die son môre wel weer sal skyn.