Liewe leser in 2010,
Hier by ons sluip 2020 nou nader - amper 'n hele dekade later. Ek weet wat jy dink; sekerlik skryf ek hierdie brief deur middel van gevorderde tegnologie wat my gedagtes kan lees? Of miskien het ek kantoor toe geteleporteer? Teen dié tyd hoop jy daar is al 'n oplossing vir aardverwarming, en 'n vrou sit aan die stuur van Suid-Afrika (of ten minste dan die VSA?).
Jong, het ek nuus vir jou! Onthou jy vir Donald Trump, daai vent van The Apprentice? Hy woon nou in die Withuis. Néé, nie een op TV nie, the real McCoy. By julle het Mnr Zuma mos nog die leisels? Hy't nog so paar jaar om te gaan. Onthou maar die woorde Nkandla en vuurpoel, dit sal alles later sin maak.
En die aardverwarming ding? Droogtes en hoë temperature duur voort, terwyl berggletsers smelt en seevlakke styg. Mense begin nou nogal vir Gretha Thunberg se advies oor die saak luister; daar by julle is sy nog sewe jaar oud.
Sonder om nou te veel te verklap (en jou te mismoedig te maak oor die toekoms) wil ek jou aanraai om jou verhouding met Eskom te verbreek. Koop daai gasstofie, kry vir jou sonpanele, jy sal nie spyt wees nie! Op 'n heel ander noot moet jy ook maar die plakkaat teen jou muur van Oscar Pistorius verwyder. Ongelukkig is ons helde nie altyd wie ons dink hulle is nie.
Ek gaan nie vir jou jok nie, dit gaan 'n warrelwind dekade wees. Fees gaan val, data gaan styg, jy sal leer wat junk status beteken, en die land sal treur oor Marikana. Die land sal treur oor baie dinge.
Ons moes ook vir 'n paar bekendes totsiens sê: Nelson Mandela, Johnny Clegg, rygbylegendes James Small en Joost van der Westhuizen, Alf Kumalo, Nadine Gordimer, André Brink en 'Baby Jake' Matlala. Daar was nóg, en eintlik verdien elkeen hul eie rubriek.
Daar was, natuurlik, ook te veel hoogtepunte om te noem. Julle het sopas die Sokker Wêreldbeker aangebied, en tussendeur Bafana Bafana-liefde en vuvuzelas het 'n land herenig. In 2014 dra skoonheid Rolene Strauss 'n wêreldberoemde kroon, en sy sal nie die laaste een wees nie; onthou gerus die name Demi-Leigh Nel-Peters en Zozibini Tunzi. Ons netbalspelers is wêreldkampioene, ons koor het wêreldwyd harte gewen, en wag tot jy hoor van die rugby!
Liewe leser, wie weet wat die volgende dekade vir ons sal inhou? Teen daardie tyd kom kuier ek net dalk self en vertel jou in persoon.