In my huis, as 'n boetie of sussie stadig is, sing ons vir mekaar "Kersfees kom, Kersfees kom!"
Ek weet; dis ietwat onbeskof, maar ook so bietjie snaaks. Ek is nie trots daarop nie. Op Kersdag mag ons nie langs mekaar op die kerkbank sit nie, anders lag ons te veel as die orrelis met dié treffer wegslaan.
Maar nou kom Kersfees regtig, oor ses slapies om presies te wees. Waarheen is die tyd? Ek het nog nie eers genoeg gewig afgeskud om ordentlik in die trifle in te duik nie, maar niemand kan my keer as dit by daardie jellie-kombinasie kom nie. Nota aan self: jy is wat jy eet.
My Nuwejaarsvoorneme was nog altyd om minder te doen: minder te eet, minder te stres en minder penne te kou (nota aan hoofkantoor: stuur asseblief meer rooipenne in 2020). Maar wraggies, volgende jaar gaan ek meer doen: meer kook met wyn, meer laat lê op naweke, en meer stap sommer net. Stop and smell the roses, verstaan?
My Gauteng-gesin is tans in Graaff-Reinet, hulle geniet dit vreeslik. As julle vier mense met 'n kamera en 'n swart Skotse terriër sien, sê maar hallo. Liza byt nie, maar ek kan nie namens die ander praat nie; dit was 'n lang jaar.
Dankie aan al ons lesers wat getrou dié jaar die Advertiser ondersteun het. Dit is 'n voorreg om met julle stories te deel. Geniet die vakansie, en dink solank wat julle meer volgende jaar wil doen. Onthou, 2020 kom, 2020 kom.
Lees gerus wat ons ander skrywers op die hart het...