Valentynsdag is om die draai. Ek haat Valentynsdag. Dit is die definisie van kommersialisme, 'n blote geldmaak-storie, 'n...ag, oraait, ek is net 'n bietjie suur omdat ek nooit iets op Valentynsdag kry nie.
Verbaas? Ek kan dit ook nie verstaan nie! Ek dink ek is baie oulik. Maar nee, selfs op skool was Valentynsdag 'n nagmerrie. Die seunskool het rose uitgedeel, en ek en my mede-enkellopendes het maar onder die boom gesit en gepraat oor hoe sterk, onafhanklike vroue nie blomme nodig het nie. Who were we kidding?
Maar hierdie Valentynsdag gaan beter wees, want ek het nou 'n man in my lewe. Sy naam is Lewis en dit was liefde met eerste oogopslag. Hy't groot groen oë, lang hare en 'n onweerstaanbare snor. Slegs drie mans het die reg tot 'n snor: Tom Selleck, Hans Strydom en Lewis.
Ek en die ou kom so goed oor die weg dat hy na dag drie by my ingetrek het. Ja, jy't reg gehoor, ons leef nou in sonde saam. Toemaar, raak rustig, hy slaap op 'n kussing op die vloer.
Hulle (ek weet nie wie hulle is nie), sê dat die liefde jou verander. Wraggies, ek is 'n ander mens. Ek glimlag meer, gooi minder penne rond in die nuuskamer, en grom nie meer (so baie) as ek nóg 'n verlowing op Instagram sien nie.
Al wat my so effe van Lewis pla is dat hy so effe duur is. Niemand waarsku jou oor die R500-veearts fooi nie: selfs geliefdes kry vlooie.
"Miaau...miaau." Ekskuus, ek moet nou groet. Lewis, nes meeste mans, hou van aandag.