'n Oom van die dorp het onlangs vir my gesê dat 'n mens net tweemaal in Graaff-Reinet huil: as jy die dag hier aankom en as jy die dag hier weggaan.
Luister, ek weet nie van julle nie, maar ek het al meer as net tweemaal gehuil, en ek huil nie maklik nie.
Die eerste keer was nadat ek ingetrek het, en ek my pa moes groet. Ek het niks of niemand geken nie, so give me a break. Gelukkig het die bure gou-gou kos en geselskap aangedra: hiér is almal welkom.
Die tweede keer was toe Tweety my groet vir die hiernamaals. Hy was miskien net vir 'n dag my troeteldier, maar ek was toegewyd tot die verhouding. Ek moet nog die My budgie and me versameling van my Pinterest verwyder.
Die derde keer was laasweek, toe ek die video sien waar Gert van Rensburg van Aberdeen in 'n rivier dans na nodige reën. "Het jy al 'n boer sien dans, het jy al 'n boer sien lag, as dit reën in die Groot Karoo," het sy vrou Pietie jubelend gesing.
Praat van snot en trane; daar is nie 'n mooier manier om dit te stel nie. Dit help natuurlik ook nie dat ek die video ses keer gekyk het nie.
Om te keer dat ek alleen huil het ek dit vir al my WhatsApp kontakte gestuur, selfs die met wie ek nie praat nie. #noregrets.
My vierde trane storting is reeds geskeduleer, vir die dag as die Nqwebadam uiteindelik vol is. Tot dan gaan ek Allan Gray en Sanlam advertensies vermy, want dit laat jou altyd 'n traan pik.
"Wraggies," sou my ouma sê, "jy gaan in 'n rosyntjie verander.