GEORGE NUUSFLITS - 'n Moorddossier is geopen na die dood van die plaasbestuurder Donald Haasbroek (66) van Dagbreek, Geelhoutboom.
Kaptein Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê 'n lykskouing sal vandag gehou word. "Ons sal teen Dinsdag waarskynlik meer weet as ons die voorlopige uitslag van die lykskouing het. Ons sal ook dan kan bepaal of die moordondersoek voortgaan en of daar 'n geregtelike doodsondersoek gedoen moet word."
Haasbroek se liggaam is Vrydagoggend (30 Junie) in die badkamer van sy huis op die plaas ontdek.
Pojie het bevestig dat daar geen tekens van 'n huisbraak of diefstal is nie. "Niks word uit die huis vermis nie. Alles was in plek."
Die polisie sê in hul amptelike persverklaring wat vanmiddag uitgereik is, dat hulle nie die aard van die oorledene se beserings bekend gaan maak nie. "Op versoek en uit respek vir die familie van die oorledene gaan ons nie die oorledene se beserings bekend maak nie."
Die polisie het hierdie besluit geneem nadat 'n storm op sosiale media losgebars het oor die George Herald se aanlynartikel waarin die polisie wel vroeër die aard van die oorledene se beserings bekend gemaak het.
Enigiemand wat die polisie in hul ondersoek kan help, kan sersant Elrico Beukes by die George-speurdiens skakel by 044 803 4715.
Meer inligting volg soos dit bekend is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
Posted on: 15:46 Mon, 03 July 2017
Your Comments
Your Comments
Confirmed Covid-19 cases in Garden Route District: