Die 13-jarige Durando Aweries, gooi sy arms triomfantlik in die lug nadat hy sy SA 3 km-staptitel in Kaapstad gewen het. Dis die tweede agtereenvolgende jaar wat Durando dié titel wen. Kaalvoet.
GEORGE NUUS - Sy tydgenote het die 3 km-stapnommer by die interprovinsiale padstapkampioenskappe by Youngsfield in Kaapstad in hul kleurvolle tekkies afgelê. Hy het kaalvoet gestap, met sy voete toegedraai in wit verbande om dit teen die teerpad te beskerm. En gewen.
Redelik maklik. Sy naaste teenstander, van die Boland, was sowat twintig treë agter hom toe hy oor die eindstreep wikkel in sy nie meer so wit verbande nie.
Dis die tweede agtereenvolgende jaar wat Durando Aweries, 'n 13-jarige leerder van Heidedal Primêr in George, die SA 3 km-staptitel buit.
Die George Herald het hom Maandag oor sy prestasie uitgevra. "My voete is nog seer, meneer, maar ek is net bly ek kon weer wen. Vanjaar se wedloop was moeiliker met sterker teenstanders wat my al die pad gejaag het. Ek kon die atleet van die Boland, wat tweede geëindig het, eers in die laaste ronde naby die eindstreep afskud."
In die onderhoud het sy ma, Naomi, toe sy daaroor gepols is, gesê hulle het eenvoudig nie geld om vir Durando duur stapskoene te koop nie. Haar man, Koos, is 'n laaigraafoperateur, en sy is huisvrou wat na die vyf kinders omsien.
Durando, een van 'n tweeling, is die jongste saam met sy sussie, Angelique. "Maar ons is almal trots op hom. Hy werk ontsettend hard om bo uit te kom."
Sy twee afrigters, Mari Swiegelaar en Sharon Losper, is ewe trots op die begaafde klein stapper.
"Ons rig Durando die afgelope twee jaar af en daar's geen twyfel nie dat hy oor hope talent beskik nie," het Mari gesê.
"Jong, hy stap nog altyd kaalvoet en dit wil voorkom of hy dit verkies. Hier is seker nog 'n vyfstuks ander atlete wat kaalvoet by ons oefen. Maar waar die kinders vandaan kom, gaan dit maar broekskeur en is daar nie werklik geld vir stapskoene nie."
Sharon het dit beaam en gesê ordentlike stapskoene sal Durando beslis help om nog vinniger te stap.
"Maar as daar nie geld is nie, wat moet jy doen? Bloed kan mens nie uit 'n klip tap nie.
"Verlede jaar het hy kaalvoet gestap, maar vanjaar het ek self sy voete met verbande voor die wedloop verbind, want hulle was nog teer ná die vorige deelname op Mosselbaai waar hy ook kaalvoet gestap het.
"Waar hulle in Borcherds oefen, plak ek altyd pleisters op sy voete om hom teen die bottelstukke te beskerm. Maar hy is taai en ongelooflik toegewyd.
"Ek gee vir elke stapper 'n stokkielekker - daai kleintjies - en Durando gee alles net om daai beloning te kry."
Dalk is daar 'n barmhartige samaritaan in George wat vir Durando met 'n paar nuwe stapskoene kan beloon. Hy is immers ons kaalvoetkampioen.
Omring deur sy teenstanders met hul kleurvolle tekkies, stap Durando Aweries (tweede van links) kaalvoet met sy voete toegedraai in wit verbande tydens verlede Saterdag se interprovinsiale padstapkampioenskappe in Kaapstad. Foto's: Roger Sedres/Gallo Images.
ARTIKEL: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-SPORTREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
Posted on: 10:42 Thu, 13 October 2016
Your Comments
Your Comments
Confirmed Covid-19 cases in Garden Route District: