"Hy's soos 'n wurm wat my leeg suig"

GEORGE NUUSFLITS - "Hy's soos 'n wurm wat my leeg suig."
 
Dit is hoe 'n ma van Borcherds haar tikverslaafde seun beskryf. Dit mag liefdeloos en ongevoelig klink, maar Jacoba* is 'n radelose vrou. Haar stryd om haar eiendom, haarself en haar dogter teen haar eie volwasse seun te beskerm, is nimmereindigend. Dis net wanneer hy in die tronk opgesluit word, dat hulle 'n bietjie kan asemhaal.
 
"Maar wanneer hy uitkom, kom hy weer huis toe, net om te breek en te steel."
 
Sy sê daar is baie ma's in dieselfde bootjie wat magteloos toekyk hoe hulle besittings verkwansel word vir tik.
Haar seun is onlangs vrygelaat nadat sy hom 'n jaar laat opsluit het vir diefstal. Dieselfde aand wat hy vrygelaat is, het hy in die nag aan haar deur kom klop.
 
Nou word die bietjie huisraad wat sy gedurende die jaar deur harde werk begin bymekaar maak het, weer weggedra.
 
"My potte en panne is alweer weg. Die ketel sal staan en kook, dan kom hy in, vat dit voor my oë en loop uit. Of ek sal staan en stryk, dan kom vat hy die yster uit my hande. Niks word uitgelos nie - as jy weer sien, dan gaan jou kind in die straat af met jou haardroër, of komberse of klere - enigiets van waarde."
 
* Jacoba is 'n skuilnaam. 
 
 
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'


Your Comments
Back to Top

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a George Herald