SUID-KAAP NUUS - 'Klein-Karoo' is 'n Afrikaanse romantiese komedie wat afspeel in die Swartberge net buite Oudtshoorn.
Die film vertel die storie van 'n jong hoërskool-onderwyseres, met 'n onblusbare liefde vir die kinders van Kalfieskraal, 'n skooltjie in die Kango-vallei buite Oudtshoorn.
Alhoewel die storie fiktief is, wys dit die waarheid van die haglike lewensomstandighede van die kinders in die vallei.
Donnalee Roberts (Annelie van '7de Laan') vertolk die rol van Cybil, die jong onderwyseres, wat verloof is aan skatryk Meyer Labuschagne gespeel deur Hykie Berg ('Binnelanders').
Frans, 'n aantreklike televisiejoernalis, gespeel deur Tim Theron ('Lagnes', 'Vloeksteen'), red die mooie Cybil uit 'n ongemaklike penarie en die vonke spat vanaf die eerste oog opslag.
Ander akteurs soos Anel Alexander ('7de Laan', 'Semi-Soet'), Leandi du Randt ('Getroud met Rugby)', Marion Holm, Sisanda Henna, Rika Sennet en Bouwer Bosch gee kleur aan die karakters wat 'n storie vol intriges vertel.
Regardt van den Bergh ('Hansie', 'Faith like Potatoes') doen die regie en Chris Chameleon is betrokke by die musiek.
Die pragtige Swartberge, die wêreld bekende Swartbergpas en die Kango-vallei is die ideale romantiese agtergrond waarteen die film afspeel.
'Klein-Karoo' word vanaf 14 April by die Swartberg County Manor, sowat 50 km buite Oudtshoorn, verfilm. 'Klein-Karoo' word in Februarie 2013 in filmteaters regoor die land vrygestel.