Die straat waar ek grootgeword het lyk nog presies dieselfde. Dieselfde huise, dieselfde vis-en-tjips-winkel bo in die straat en die gebou van die auto electrician oorkant.
Maar die tuine lyk sleg, en die meeste huise kort onderhoud. Ek hou voor nommer 53 stil, klim uit en vat aan die hekkie wat my pa meer as 60 jaar gelede as sweiser op die myn gemaak het.
Sy diefwering met krulle en blare is ook nog in die vensters. Hy het hulle groen en geel geverf, hulle is nou geelwit en skilfer af. Die hekkie is met 'n slot gesluit, die twee motorhekke wat hy ook gemaak het, het ook 'n slot aan.
Daar is 'n beweging by een van die twee voorste vensters, die venster van een van die vierkantige huisie se twee slaapkamers. Die gordyn word weggeskuif en 'n vrou loer uit, vra iets wat ek nie kan hoor nie.
"Ek het hier grootgeword, kan ek dalk inkom?"
"English please."
"I grew up in this house, may I come in please?"
"No."
"Perhaps I could just look around outside?" (Want ek wil kyk of die ou buitetoilette en die buitekamer waar ek in my matriekjaar ingetrek het, nog daar is.)
"No.", en die gesig verdwyn toe die kantgordyn toeskuif.
Ek draai om. Oorkant in die groot siersteenhuis het die Strydoms gebly. Die tuin is steeds netjies, maar sonder die blomme en struike waarvoor die oom destyds pryse gewen het.
Langs die Strydoms het tannie Rosie en oom Hannes kinderloos gebly en langs hulle die Engelse tannie wat haar kleinkind grootgemaak het.
Ek stap na my gehuurde kar toe, en net voordat ek inklim kom 'n man by die huis langs my geboortehuis uit. Ek vergeet die van van die mense wat daar gebly het, maar die oom het vir die poskantoor gewerk en hulle was die eerste mense in die straat wat in die sewentigs 'n televisiestel gekry het.
Die man wat uitkom is omtrent my ouderdom en hy groet in sy taal en tot my skaamte besef ek, ek onthou net die basiese groet in Noord-Sotho wat ek op kollege geleer het. Hy glimlag breed vir my poging en ek beduie na nommer 53.
"I grew up here," en ek verduidelik dat ek graag om my ou huis sou wou stap, alles in my beste Engels, maar hy antwoord in Afrikaans.
"Die ou vrou se man is baie siek, niemand gaan in nie," en ek raak oorweldigend bewus van my onkunde van 'n derde taal. Ek wys na die huis van die Strydoms en vra of hy weet of oom Gideon en tannie Yvonne nog daar bly.
"Ja, Oupa en Ouma bly nog daar, maar hulle is vandag na die kinders toe."
Ek haal my besigheidskaartjie uit en gee dit vir hom. "Sal jy dit asseblief vir hulle gee as jy hulle weer sien, ek wil vir hulle kom dankie sê."
Hy kyk na die kaartjie, vra waar is Oudtshoorn en druk die kaartjie in sy hempsak. Hy vra nie waarvoor ek wil dankie sê nie. Sou hy gevra het, sou ek hom vertel het hoe oom Gideon in 1975 toe ek 'n studiebeurs gekry het, die vorms ingevul het wat my ma en stiefpa geweier het om te doen, want my stiefpa het gesê hy teken nie borg vir enige beurs nie.
Ek het op daardie stadium nie besef wat oom Gideon geteken het nie, en toe ek jare later besef, was ek en my gesin op 'n ander plek, my stiefpa was al dood en my ma het weggetrek ouetehuis toe.
Drie dae later bel oom Gideon my en die volgende jaar toe ek weer Gauteng toe moes gaan, gaan kuier ek en my dogter vir oom Gideon en tannie Yvonne.
Hy sê hulle moes seker lankal die huis verkoop het, maar dis die huis waarin hy grootgeword het. 'n Jaar daarna bel hy my om te sê tannie Yvonne se siekte het haar gevat en hy sal nou maar oppak en na sy kinders toe trek.
Ek het begin om 'n lys te maak van mense vir wie ek nog moet dankie sê vir die afgelope 63 jaar, maar dis 'n onbegonne taak.