‘n Nuwe jaar met sy nuwe dinge. Hoewel ek as ‘n reël nie opgewonde raak oor nuwejaarsvoornemens nie, het die vooruitsigte vir 2021 my nou éérs onbewoë gelaat.
Ek wil nou nie met die intrapslag geëtiketeer word as ‘n ou bitterbek of ‘n doemprofeet nie. Noem my eerder ‘n optimisitiese realis. Terwyl ons rondtas vir antwoorde aangaande ‘n Covid-19-inenting, sukkel Eskom op die koop toe om die ligte aan te hou. Ieder geval, ons súkkel. Want ons word nie net figuurlik nie, maar oor letterlik in die duister gehou.
Dit bly egter maar ‘n kwessie van perspektief.
Teen die einde van 2021, kry ek my hande op ‘n vergeelde kopie van Richard Carlson se topverkoper, Don’t Sweat The Small Stuff. Teen hierdie tyd al mosterd na die maal en vervang met ‘n duisend ander sogenaamde selfhelpboeke, verslind ek dit soos ‘n hygroman.
Maar, realisties gesproke is daar nie ‘n kitsoplossing die vir effense swartgalligheid wat met die einde van ‘n jaar soos 2020 gepaardgaan nie. Nes die familie wat ons vyf jaar laas gesien het uit Switserland aankondig dat hulle kom kuier, toe sluit Cyril mos die Tuinroete se strande. Nog nooit sou ek dink aan vuiste bal en bande brand nie, maar dit was so hittete. Die kuier gaan toe voort, behalwe dat ons dalk vir die kinders, in hulle mees kwesbare ouderdom, nie die beste voorbeeld van wetsgehoorsaamheid gestel het nie.
Dit daar gelaat.
Terwyl die spulletjie, ‘n hele nege van ons toe so saambondel in die geduldige ou strandhuis, word een na die ander siek. Sommerso twee-twee op ‘n slag. En die term “siek word” moet ‘n mens boonop deesdae met omsigtigheid aanwend.
Dit daar gelaat.
Op die groot dag van die lank en ver groet, beboet ‘n onsmaaklike vent wat homself ‘n provinsiale verkeersbeampte noem my vir ‘n motorlisensieskyf wat met enkele dae verval het. Hoe meer ek hom bloot vra om haastig te maak met die uitskryf van die boete omdat ek buitelanders by die lughawe moet besorg, hoe liedeliker gedra die man hom, soveel so dat ek ‘n klag teen hom moes lê.
Dit daar gelaat.
Die boetekatastrofe veroorsaak toe dat tyd êrens op die roete ingehaal moet word.
‘n Kortpad lewer immer ‘n paar interessante wendings op. Hetsy dit nou op jou lewensreis is of bloot ‘n vinniger pad na jou bestemming bied. Om deur ‘n township te ry met ‘n motor vol toeriste uit ‘n eerstewêreldland, bied uitdagings van sy eie. Jy bly al verskonend en apologeties.
Maar soos die ou tannie wat so graag by die kerkkantoor gesit en skinder het altyd bitterlik sedig van mening was: “Jy sal jou verbaas hoor?”
In Mayixhalestraat, KwaNonqaba stap ‘n klomp beeste rustig oor die pad. Die beeswagtertjie, jonger as die jongste kind in my motor, steur hom nie aan ons nie. Sy oë is op sy kudde. ‘n Paar van sy maats, armoedig aangetrek hardloop agterna, salig onbewus dat ons haastig êrens heen op pad is. ‘n Ou man sit voor sy huisie en rook. ‘n Jong man spit driftig langs hom. Sy kaal bolyf glim bruinblink in die bakkende son terwyl ek die lugverkoeiling in die motor na ‘n hoër verstelling skuif.
Ek verduidelik aan my passasiers iets van die sosio-ekonomiese uitdagings, die onwettige kragkoppelings, die bendegeweld wat by die hoërskool in die omgewing uitgebreek het en die riooloorstroming toe die afvoerpype onlangs geblokkeer was.
Terwyl ek nog verduidelik en tussen die pondokkies deurry, roep ‘n opgewonde stemmetjie uit die agterste sitplek: “Look! Look there…Can you see it? Just look at those beautiful red roses!”
Ek kyk regs na waar beduide word. Agter ‘n vervalle plankheining, ruig en geil, staan ‘n laning vlamrooi kannas vol in die blom.
Dit wys jou, alles, is ‘n kwessie van perspektief.