In die bekende swart en wit kortfilm, Dinner for one, wat tradisioneel op Oujaarsaande op televisie uitgesaai word, vra die lyfkneg, James, telkens vir Miss Sophie of alles presies dieselfde as die vorige keer moet wees.
Tot sy spyt dring sy daarop aan dat hy elk van haar denkbeeldige gaste met drank en kos moet bedien, presies soos wat hy jare gelede gedoen het toe die mense nog in lewende lywe om die tafel gesit het.
Ongelukkig moet arme James ook die rol van elke gas vetrolk en glas na glas in heildronke namens die afgestorwenes ledig.
Dit is een van my gunsteling stukkies komedie, maar dit herinner my elke jaar daaraan dat die feit dat 'n nuwe jaar ingegaan word, eintlik geen verandering teweeg bring nie. Dit wat verlede jaar betaal moes word, moet steeds betaal word en die honde wat op 31 Desember gevoer was, is weer op 1 Januarie honger.
Hierdie jaar is dit wat dieselfde bly egter baie duideliker en meer ontstellend. Die virus wat ons in Maartmaand van vryheid, inkomste en lewens begin stroop het, is steeds hier.
Met President Ramaphosa se toespraak Maandagaand het hy begin met "We are eleven days into the new year..." en ek het hardop voor die televisie bygevoeg "and nothing has changed".
Ek is daarvan seker dat die werklike Covid-impak op ons as mensdom eers lank nadat die virus weg is, duidelik sal word. Op die oomblik weet ons die ekonomiese impak en die verlies aan lewens is kommerwekkend en dwing mense op hulle knieë.
Die emosionele en sielkundige uitwerking glo ek, sal eers later deurskemer. Ons is tans nog te besig met oorlewing, met planne maak en ja, ook met beskuldigings.
Ek het onlangs op Facebook voorgestel dat mense die term "Covid-19" moet vervang met "Wêreldoorlog". Ek het gehoop om met die stukkie wysheid te toon dat dit wat baie van ons nog steeds as 'n Suid-Afrikaanse kwessie aan die hand van 'n onbeholpe regering sien, as 'n wêreldkrisis sal erken.
Daar is nie een mens of een regering in die wêreld wat nie deur die pandemie geraak is nie en daar was waarskynlik nog nooit soveel "kenners" op die gebied van virologie, ekonomie, politieke leierskap en die wêreldorde soos nou nie.
Die crux van die saak is dat ons almal bang is, ons is almal onseker en ek dink nie ons het die woordeskat om dit wat nou met ons gebeur te verwoord nie. Terwyl ek hier sit, weet ek van my familielede sit sonder 'n inkomste as gevolg van die inperkingsmaatreëls, maar ek weet ook daar is miljoene ander in presies dieselfde bootjie. Net soos wat ek bekommerd is oor die toekoms van my werk, is daar miljoene ander wat met dieselfde onsekerheid moet omgaan.
Vir die eerste keer in my lewe het die aanbreek van 'n nuwe jaar geen oproer veroorsaak nie. Daar was geen getoet van motors, gebeier van klokke en aanhoudende klap van vuurwerke nie. Wat moet ons dan in hierdie nuwe jaar waar niks verander het nie, doen? Ek dink ons moet gaan stilstaan en besluit om sagter te lewe. Ek het twee jaar gelede in 'n rubriek oor die afsterwe van my vriend Reinhardt Retief, geskryf hoe om soos hy, sag te lewe.
Dit is moeilik, maar dit is nie onmoontlik nie. Ek weet nie hoe om anders om te gaan met die lys van name van mense wat ek ken wat al aan Covid-19 dood is nie. Ek weet nie hoe om mense se vrese te besweer en hulle samesweringsplasings te ignoreer nie. Ek weet ook nie hoe om mense wat finansieel op die afgrond staan, te bemoedig nie. Ek kan net probeer deur sag met hulle en met myself te wees. Mag 2021, ten spyte van die uiterste uitdagings, 'n "sagte" jaar wees.