"Hierdie naweek is dit net weer rooi goed. Ek hou nie eens van rooi nie. Dis te...duidelik!"
Die vrou vee die sweet ergerlik van haar voorkop af. Die somerhitte het haar rooi in die gesig.
Dis mos Februarie. Ek wens self daar was groter balans in ons seisoentoedeling. Winters duur dikwels tot in Desember en met dié dat die somer in die Suid-Kaap eintlik net twee maande lank is, beleef ons ‘n onverdunde hittekonsentraat wat jou behoorlik laat les opsê.
Die vrou se ergernis oor haar Valentynsdag-inkopies ten spyt, pak sy ‘n hele rits hartjiesjokolades voor die verveelde kassiere uit. Van pure frustrasie, skeur sy sonder seremonie een van die sjokolades oop en prop dit in haar mond nog voor dit opgelui is.
“Ek het net 14 nodig. Dis vir die skool. Hierdie is nommer 15. Ek kan dit net sowel eet, want ek gaan wragtag nie in die hitte terugsukkel na die winkelrak toe nie.”
Sy betrek my ongevraagd by haar selfgeldende verduideliking.
Ek probeer aan iets gepas dink om te sê, maar sy kou so lustig dat haar aandag gelukkig nou elders is.
As ek nou doodeerlik moet wees, maak rooi maak my ook nie opgewonde nie.
Nét as ek my rooi Flamenco-skoene aantrek en my dan verbeel ek is 'n sigeunervrou in haar liefde verlaat. Dan dans ek die stof uit die vloerplanke uit.
Toe ek nuwe dansskoene moes koop ‘n jaar of wat gelede, was enigiets anders as swart vir my ‘n groot opskuif. Rooi, het ek presies soos die swetende, kouende, hoogrooivrou gedink, is so…duidelik. Dus, reken ek toe, as ek dans en ek maak ‘n fout, is dit net té duidelik.
Maar foute is soms juis die goed wat Flamenco-dansers van mekaar onderskei.
“Jy kan net Flamenco behóórlik dans as jy al ‘n bietjie gewroeg het in die lewe. Andersins, is jy tegnies puik, maar sonder die … pasión!” Só verduidelik die dansinstrukteur tot my redding toe ek as middeljarige vir die eerste keer in etlike jare ‘n dansklas bywoon. Die jonges, met die flink breine en vinnige voete het duidelik geen ‘n idee waarvan hy praat nie.
Vir hulle part, is ek maar bly. Vir hulle part is ek bly dat rooi goed op Valentynsdag hulle harte vinniger laat klop. Vir hulle part is ek bly dat hulle die radio harder draai as ‘n liefdesliedjie speel. Vir hulle part is ek bly dat hulle met sterre in die oë die jongste romantiese komedie wat ‘n loketreffer is, sal gaan kyk . Vir húlle part hoop ek dit bly so.
Wanneer ek daardie rooi skoene aantrek en die bandjie oor die voet styftrek, word wroeging my dansmaat. Die melankoliese klaagsang van die cantaor of cantaora laat my frons, nie omdat ek kwaad is nie. Maar omdat ek wroeg. Soos die tocaores die ritme uit hulle kitare slaan, trap my rooi voete ‘n nuwe dans deur ou, ou stories.
Op die vooraand van Valentynsdag, stuur ‘n ou vriend net ‘n sin of twee, sommer so ligvoets, om sy ons twee se lot op te som. “Jy is snaaks en onopsombaar. Alleenwees is nie vir sissies nie. Jy moet jou storie ken en strategie beplan.”
Sy woorde hingel nog steeds in my gemoed rond. Op die keper beskou, is dit die beste beseringstydpraatjie wat ek tot nog toe gehoor het.