GEORGE HENGELNUUS - Barend Boshoff, passievolle jong hengelaar van die George-skibootklub spog met nasionale kleure nadat hy vir twee internasionale toernooie in die SA Diepsee Hengelvereniging (SADSAA) se o.19-span ingesluit is.
Hy is ook as kaptein van die bodemvis-hengelspan aangewys wat 'n verdere veertjie in sy hoed is.
Hierdie leerder van die Hoërskool Outeniqua, asook sy ouers, Bennie en Brenda Boshoff, was oorstelp van vreugde toe hulle op 13 Maart 'n oproep van die president van SADSAA, Phillip Marx, ontvang met die nuus dat hy die nasionale jongspan gaan verteenwoordig en as kaptein aangewys is vir een van die twee toernooie.
Bennie, wat Barend van kleins af in die hengelsport opgeskerp het, het gesê dat hy met 'n visstok in die hand gebore is. Hy is tans saam met sy seun by die nasionale sportvistoernooi in St. Lucia en die hele gesin gaan hom later by die nasionale bodemvis-toernooi in Oos-Londen ondersteun.
Barend Boshoff op die diepsee met een van sy talle vangste.
Op 11-jarige ouderdom is Barend in 2012 in die Suid-Kaap o.16-span ingesluit en in hierdie eerste toernooi is hy as die beste hengelaar aangewys terwyl hy ook die span gehelp het om die goue medalje te buit.
In 2014 het hy vir die eerste keer as kaptein vir die Suid-Kaapse span in die nasionale kampioenskap opgetree toe hulle die vierde plek ingeneem het.
Twee jaar later was hy weer kaptein van die Suid-Kaapse span wat nog twee jaar later, in 2016, die bronsmedalje gebuit het. In 2017 het hy die span gelei om met die goue medalje weg te stap. Verlede jaar was hy die kaptein van die Suid-Kaapse span wat aan die nasionale sportviskampioenskappe deelgeneem het toe hulle die vyfde plek uit 12 spanne ingepalm het.
Die Suid-Kaap-skibootklub is met reg trots op die uitstekende prestasies van hierdie jong en toegewyde lid.
Barend en sy gesin het ook die onderskeie borge bedank vir hul bydrae om sy deelname moontlik te maak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'