SWEMNUUS - Daar is geen keer aan George se kampioenswemmer Minke Janse van Rensburg nie.
Sy het sedert die begin van die SA Swemkampioenskappe vandeesweek in Gqeberha reeds drie medaljes ingepalm en boonop 'n wêreldrekord laat spat.
Minke het 'n goue medalje opgeraap in die 50m vryslag waarin sy die wêreldrekord hou, en haar eie rekord verbeter van 34:85 na 34:17.
Haar tweede goue medalje was in die 50m vlinderslag. Sy het ook 'n brons in die 100m borsslag verower.
Haar pa, Hennie Janse van Rensburg, sê hulle verwag nog medaljes vandag wanneer sy aan die 100m vryslag en 50m rugslag gaan deelneem. Hulle is baie trots en opgewonde oor hoe sy vaar. "Sy is op 'n goeie plek. Sy raak net sterker by die dag. Sy is baie gedissiplineerd." Hy sê sy hou by 'n streng roetine tydens die kampioenskappe waarin sy genoeg rus kry.
Dié Downsindroomswemmer het George en die hele Tuinroete trots gemaak toe sy in Maart vanjaar as Suid-Afrika se gestremde sportvrou van die jaar aangewys is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’