SUID-KAAP HENGELNUUS - Drie van die Suid-Kaap se top kushengelaars het 'n reuse rol gespeel in die nasionale Rock and Surf Super Pro League (RASSPL) se sukses in die internasionale toernooi wat in Angolese viswaters beslis is.
Die Suid-Afrikaanse top 12 uitnodigings- en meesterspan het hul kompetisies teen Engeland, Namibie en Angola gewen terwyl die dames- en juniorspan naaswenners was.
Ryan Wood van Plettenbergbaai was die kaptein van die top 12-span en het die derde algehele individuele plek ingeneem terwyl Ian Lucas van Knysna, die top hengelaar in die kompetisie vir uitnodigingspanne was. Melissa Lucas, ook van Knysna en top vroue hengelaar van Suid-Afrika, het die vyfde plek onder die dames ingeneem.
Die RASSPL-kompetisies volg die beleid van vang-en-vrylaat ten einde die volhoubaarheid van hengelsport te verseker.
Die Suid-Kaapse span moes meer as 3 500km platry om die hengel-area te bereik en het meer as R20 000 se brandstof gebruik.
"Ons deelname," het Ian Lucas gesê, "sou nie moontlik gewees het sonder die bydrae van al ons borge nie. Ons wil net ons hengelpette hoog lig vir hulle wat ons help om aan die sport deel te neem en die Suid-Afrikaanse vlag hoog te laat wapper in die internasionale arena.
Ian Lucas met een van sy mooi vangste in die Angolese waters. Foto's: Verskaf
Melissa Lucas poseer hier met een van haar baie kabeljoue wat sy suksesvol geland het.
Die drie top hengelaars van die Suid-Kaap wat die nasionale span verteenwoordig het, is (van links) Ian en Melissa Lucas en Ryan Wood.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'