GEORGE NUUS - Swemmers van oor die Eden-distrik het Saterdag 29 Januarie die water by Conville-swembad getoets.
Na 'n dekade sonder galas by dié heerlike waterkuil is Eden Aquatics meer as opgewonde oor wat die toekoms inhou.
President van Eden en Wes-Kaap Aquatics, Lluwellyn Coetzee, het gesê daar is besluit om die gala hier te hou, omdat daar probleme in Oudtshoorn is, waar die galas gewoonlik plaasvind.
Volgens Coetzee het Eden-swemmers geswem om hul tye te verbeter en om te kwalifiseer vir die nasionale kampioenskappe wat in Maart en April gehou word. Swemmers word in vlakke (vlak 1 tot 3) verdeel.
"Voorlopig vind die vlak 3-byeenkoms hier plaas. Ons hoop is om ook die SA junior nasionale swemkampioenskappe hier aan te bied."
Lluwellyn Coetzee (Eden Aquatics), raadslid Brendon Adams, waarnemende munisipale bestuurder dr. Michele Gratz en direkteur van gemeenskapsdienste, Allen Paulse. Foto's: Michelle Pienaar
Waarnemende munisipale bestuurder Michele Gratz, raadslid Brendon Adams en direkteur Allen Paulse het ook 'n draai by die geleentheid gemaak. "George-munisipaliteit het omtrent geroer om die swembad vandeesweek voor te berei vir die gala. Ons is baie dankbaar vir hulle ondersteuning," het Coetzee gesê.
Eden-swemmers ding mee om hul tye te verbeter by Conville-swembad. Foto: Michelle Pienaar
Jong Eden-swemmers maak gereed vir 'n item by Conville-swembad.
Conville-swembad is sedert Maandag 31 Januarie weer oop vir die publiek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'