GEORGE NUUS - Die branderplankkampioen en inwoner van Victoriabaai, Bianca Buitendag, gaan aan die Olimpiese Spele in Japan deelneem. Die Olimpiese Spele vind van 23 Julie tot 2 Augustus plaas.
Buitendag (27) is op die oomblik druk besig met voorbereidings en vertrek op 16 Julie na Japan.
Vir haar is dit 'n droom wat waar geword het. Branderplankry het eers 'n paar jaar gelede die groen lig as Olimpiese sport gekry. Vanjaar is die eerste keer dat branderplankryers aan die Olimpiese Spele deelneem.
'n Opgewonde Buitendag het gister, Woensdag 23 Junie, aan George Herald gesê dit is 'n lang pad wat sy geloop het en baie harde werk is ingesit. Sy het 12 jaar gelede saam met haar ouers na George verhuis.
Dit was haar ouers, Colin en Yvette Buitendag, wat haar kleintyd aangemoedig het om aan die sport deel te neem. Sy het reeds op 5-jarige ouderdom begin branderplankry. Haar pa, wyle Colin, was op sy dag self 'n provinsiale branderplankryer.
"Ek en my broers, Sven en Daniel was maar altyd in die see," het sy vertel.
Op 10-jarige ouderdom het sy mede-dingend begin deelneem en reeds drie jaar later het sy die eerste keer oorsee, in Frankryk, gaan deelneem. Op 14-jarige ouderdom het sy Springbok geword en teen die ouderdom van 16 was sy reeds ses keer die nasionale vrouekampioen.
Bianca Buitendag, branderplankkampioen en 'n inwoner van Victoriabaai in aksie.
In 2011 was sy tweede op die junior wêreldranglys vir vroue en in 2015 vierde op wêreldranglys vir vroue.
Op die oomblik oefen sy drie keer per week in 'n gimnasium en minstens een keer elke dag in die see. Soms twee keer per dag in die see en die oefensessies in die see duur sowat twee ure.
Volgens haar is branderplankry 'n baie tegniese sport. "Jy kompeteer teen die oseaan eerder as teen ander deelnemers."
Sy geniet die sport baie en sy sal altyd haar liefde vir die soutwater behou.
Oor haar kanse by die Olimpiese Spele is sy beskeie. Daar is 20 deelnemers in die vroueafdeling. "Ek hoop om 'n podiumplek te behaal."
Bianca Buitendag, branderplankkampioen en 'n inwoner van Victoriabaai in aksie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'