GEORGE NUUS - Die vyfde en laaste Technifibre Eden Mini-toernooi vir 2026 het die afgelope naweek in George plaasgevind. Tennisspelers van regoor die streek het van oranjebal-vlak (beginners) tot seniorvlak meegeding.
Spelers het in sonnige lenteweer hul beste tennis gelewer en die Eden Mini-reeks se 2026-seisoen met mededingende wedstryde en sterk vertonings afgesluit.
Volgens Ettiene van Zyl, voorsitter van Eden Tennis Juniors, is die sukses van die toernooi grootliks te danke aan die mense wat agter die skerms gewerk het.
Van Zyl het sy dank uitgespreek teenoor Lizelle Fourie, die toernooi-organiseerder, asook die baanbeamptes wat gedurende die naweek onverpoos gewerk het.
"Daarsonder is 'n toernooi soos hierdie glad nie moontlik nie," het hy gesê.
Hy het ook die borge bedank vir hul ondersteuning wat gehelp het om die toernooi moontlik te maak.
Tamere Stewart was die wenner in die meisies o.16 endstryd, en Liyabukwa Magigaba die naaswenner. Foto: Verskaf
Nog tennis vir Eden-juniors
Hoewel die Eden Mini-reeks vir 2026 afgehandel is, wag daar nog verskeie uitdagings vir Eden-tennis se junior spelers.
Eden se laerskoolspelers neem vroeg in November in die Kaap aan die Interdistrikte-toernooi deel, waar hulle teen spelers van Platteland, Drakenstein en Wynlande te staan sal kom.
Die Eden-hoërskoolspelers beplan om in Oktober in Cradock aan die Ruben Bezuidenhout-toernooi deel te neem.
In die afdeling vir groenbal dogters o. 10 het Liandi van Zyl eerste plek behaal en Mienke Vermaak was die naaswenner. Foto: Verskaf
Wenners - Enkelspele
Die wenners van die verskillende afdelings was:
Oranjebal (beginners): Rafael Strydom
Groenbal seuns o. 10: Rocco van Niekerk
Groenbal meisies o. 10: Liandi van Zyl
Seuns o. 12: Luc Botha
Meisies o. 12: Milea Jacobs
Seuns o. 14: Max Botha
Meisies o. 14: Rebekah Steyls
Seuns o. 16: Tyler Stanham
Meisies o. 16: Tamere Stewart
Mans: Devilliers Lamprecht
Rebekha Steyls was eerste onder die dogters o. 14, gevolg deur Charlotte Mcculloch.
Foto: Verskaf
Die dubbelswenners was:
Seuns o. 12: Luc Botha en Stephan Visagie
Meisies o. 12: Milea Jacobs en Siena Pike
Seuns o. 14: Max Botha en Joshua Woudberg
Meisies o. 16: Tamere Stewart en Tiana van Niekerk
Mans: Devilliers Lamprecht en Quintus Lutsch
- Verwerk deur Marguerite van Ginkel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’