GEORGE RUGBYNUUS - As jy vir 19 jaar lank by rugby op plaaslike en internasionale vlak betrokke is, kan mens seker 'n lywige boek saamstel oor al jou wedervaringe. Maar sy bywoning van die Wêreldbekerrugbytoernooi in Japan in 2019 was 'n hoogtepunt in sy lewe, sê Innis Erasmus.
Hy is Japan toe as fisioterapeut van die Namibiese rugbyspan. Voor dit was hy vir 16 jaar lank fisioterapeut by die SWD Arende.
Innis het in 2000 as fisio by die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) gekwalifiseer en in Oktober 2001 na George verhuis om by die Arende in te val. Hy het terselfdertyd die Pro-Fisio privaat praktyk gekoop en as fisio gepraktiseer.
Hy het later sy vlerke gesprei om onder-vinding in die Superrugby-reeks (suidelike halfrond) saam met die Stormers en in die Guiness PRO 14-reeks (noordelike halfrond) saam die Southern Kings op te doen. Innis was ook SA rugby (Saru) se fisio van 2005-2007 en die Saru Akademie-fisio van 2013-2015.
In dieselfde jaar het hy sy MBA in "Change Management- Transformational Issues in SA Rugby" by NMMU voltooi.
Iets wat hom bybly is Jean de Villiers, voormalige Springbokkaptein, se vraag op 'n Stormers-oefenkamp in George in die SWD-kleedkamers: "En hoe gaan dit met die 'golden boy' van die Eagles?"
Min het hy toe geweet dat hy na die Wêreldbekertoernooi sal gaan as 'n Namibiese "eagle."
Innis het aan George Herald gesê die Japanse ekskursie is 'n klassieke geval van op die regte plek op die regte tyd. "Só 'n geleentheid kom net een keer in jou lewe as jy gelukkig is en dan moet jy dit met albei hande aangryp. Jy mag nie 'n eens-in-'n-leeftyd ervaring misloop nie.
"Toe die Walliser en hoofafrigter van Namibië, Phil Davies, my nader met die geleentheid om hulle by te staan met hul kwalifisering en voorbereiding vir Japan, was my antwoord 'n definitiewe 'ja'."
Innis sê dit was 'n geloofstap. Die familie is sak ek pak saam, alhoewel die Namibiërs toe nog nie gekwalifiseer het nie.
Namibië se eerste wedstryd was teen Italië, wat opgevolg is teen die Springbokke en die All Blacks binne 'n week na mekaar.
"Slapelose nagte vir ons. Meer as die helfte van die Namibiese span is nie voltydse professionele spelers nie en dit het groot uitdagings aan ons gestel.
"Tot oormaat van ramp moes ons in ons laaste groepwedstryd teen Kanada uitdraf. Dis die één wedstryd wat ons ten alle koste wou wen en die spelers het geglo dit was wel binne bereik.
"Ongelukkig het die tifoon Hagibis amok gesaai en is die wedstryd afgelas en moes ons punte met Kanada deel. Dit was vir my persoonlik die grootste teleurstelling van ons Wêreldbekerveldtog.
"Om die haka lewendig van naby te aanskou was vir my 'n hoogtepunt. Dis iets wat jy self moet ervaar om te besef watse impak die mooi tradisie op tienduisende toeskouers gehad het. Dat ons die All Blacks in die eerste helfte goed in toom kon hou, het baie mense verbaas.
"Tot kort voor rustyd was ons nog met 9-10 agter, maar na rustyd het die damwal gebreek. Dis was duidelik dat die Nieu-Seelandse afrigter, Steven Hansen, meer as net die sweep in die kleedkamer geklap het."
Innis sê toe die Bokke teen Japan speel, het hy besef hulle kan die toernooi wen. "Daar was net 'n ongelooflike gees onder die Bokke. Toe Duane Vermeulen, wat nie teen Japan uitgedraf het nie, die fisio's se sakke na die kleedkamer help dra het, het ek besef hier is iets groots vaardig in die Bokkamp. Daar was 'n stille selfversekerdheid en kalmte sonder enige teken van verwaandheid."
Vermeulen is na die eindstryd teen die Engelse as speler van die wedstryd aangewys.
"Voor ek my kon kry het ek Nkosi Sikelel' uit volle bors gesing."
Innis sê oor Japan en sy mense kan hy nie uitgepraat raak nie. "Die kultuur in Japan is ongelooflik en so ook sy mense en die natuurskoon. Mense reg oor die wêreld kan by hul werksetiek en gasvryheid kers opsteek.
"By verre was dit vir my 'n persoonlike hoogtepunt om die toernooi saam met my hele gesin te kon deel. Dié ervaring het ongetwyfeld ons horisonne verbreed. Die Japannese en hul kultuur is bewonderenswaardig.
"Ek is net ongelooflik jammer vir Japan dat die Covid-19-pandemie hul Olimpiese planne vir 2020 gekelder het. Hulle sou 'n reusesukses van die Spele gemaak het."
Innis en sy gesin is weer terug in George en hy praktiseer weer voltyds. "Ek is bly om weer terug te wees in George en sy mense. Oos, wes, tuis bes.... Die Tuinroete en George bly ons tuiste."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'