RUGBYNUUS - Wanneer die Springbokke Saterdagaand, 21 Oktober, om 21:00 teen Engeland in die Wêreldbekerrugbytoernooi speel, sal daar in die Immelman-huishouding van George, biltong geëet word.
Dis danksy Lindie Immelman se aanvoeling om rugbytellings te voorspel. Sy het voorspel dat die Springbokke die afgelope Sondagaand die Franse sou klop met 19 - 17.
Sy het ingeskryf vir George Herald en Van Rensburgs Foods se rugbyraaikompetisie. Ongelukkig het niemand die regte telling van 29 - 28 voorspel nie.
Haar telling was egter die naaste aan korrek en sy het 'n pak biltong van Van Rensburgs Foods gewen.
Dis natuurlik nie vreemd dat sy so 'n rugbyaanvoeling het nie. Haar man, Braam Immelman, was op sy dag 'n professionele rugbyspeler wat selfs in die buiteland gespeel het. Hy het ook vir WP uitgedraf. "My man is eintlik die rugbykenner," het sy vertel. Die egpaar se twee seuns, JP en Cobus speel ook rugby.
Dis die eerste keer dat sy so 'n kompetisie gewen het. "Ek het dit op sosiale media gesien en besluit om 'n kans te vat. "Dit was uit en uit 'n raaiskoot."
Die Immelmans het Sondagaand se wedstryd baie geniet. "Dit was baie opwindend."
Sy hoop die Springbokke doen goed in die res van die toernooi. Lindie is baie dankbaar vir die prys wat sy gewen het.
Ben Randall van Van Rensburgs Foods en Lindie Immelman. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’