RUGBY NUUS - Die SWD Arende is reeds besig om planne in plek te stel vir aanstaande jaar se eerste divisie van die Curriebekerreeks.
Die span het vanjaar derde in die reeks klaargemaak en selfs in 'n eindstryd gespeel.
Die rekordboeke wys dat die span 10 wedstryde in vanjaar se reeks gespeel het, waarvan hulle ses gewen en vier verloor het.
Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, glo die span kan aanstaande seisoen nog beter vaar.
Hy het in 'n openhartige onderhoud oor die afgelope seisoen gepraat. Daar was hoogtepunte en laagtepunte. Die oorwinning teen Boland vroeg in die reeks was spesiaal. Dit het die seisoen vir die span op die regte pad geplaas. Dit het 'n positiewe energie in die span gevestig en 'n goeie platform vir die res van die seisoen gelê.
Moolman is optimisties oor die pad vorentoe. Natuurlik sal dit moeilik wees om die span in sy geheel te behou, maar die kern van die span sal aanstaande seisoen weer beskikbaar wees.
Hy en sy die spanbestuur gaan in die volgende paar weke kyk na klubrugby in die SWD om te sien watter talent nog beskikbaar is. Hopelik sal alle aktiwiteite vroeg in November in alle erns hervat word.
Die bestuurspan is gekontrakteer tot die einde van die 2023-seisoen en hy sal graag 'n kerngroep spelers in plek wil vestig wat kan voortbou in die 2024-seisoen.
Volgens hom speel die eerste divisie van die Curriebekerreeks 'n baie belangrike rol in Suid-Afrikaanse rugby. Dis 'n belangrike en relevante pad vir spelers om te vorder en te groei. Dis 'n goeie skool vir jong spelers en hy is ten gunste daarvan dat dit voortgaan.
Moolman glo daar is jong skoolseuns in die streek met baie rugbytalent, die probleem is om hulle hier te hou. Daar is 'n universiteit in George en daar kan gekyk word hoe van die studente as spelers deel van die sisteem kan word.
Uit gesprekke is dit vir hom duidelik dat mense die Tuinroete as 'n fantastiese plek beskou om te woon en spelers beskou George ook as 'n aanloklike moontlikheid. Die uitdaging is om dit finansieel lewensvatbaar te maak om spelers hier te kry.
Die SWD Arende, hul spanbestuur en senior ampsdraers van SWD-rugby verlede week op Outeniquapark. Foto: Eugene Gunning
Die SWD Arende se speler van die jaar: Mitchell Carstens. Hy is 'n losvoorspeler. Foto: Grey Stopforth
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'