RUGBY NUUS - Nie net rugby nie, maar ook die plaaslike ekonomie het voordeel getrek met die aanbied van die o.18 Cravenweek, wat Saterdag 8 Julie op Outeniquapark geëindig het.
Vanjaar se geleentheid was deel van Hoërskool Outeniqua se 100-jarige feesvieringe. Benewens die skool was ook die George-munisipaliteit en SWD-rugby by die reëlings betrokke.
Saterdag was die laaste dag en by tye was dit erg koud en selfs reënerig, maar dit het nie die geesdrif gedemp nie. Toe die hoofwedstryd tussen die Blou Bulle en die WP kort na 13:00 begin was die hoofpawiljoen so te sê vol. Duisende mense het ook tuis voor die televisie gesit. Uiteindelik het die WP met 29 - 5 gewen.
Christo Vorster, hoof van Outeniqua, het Dinsdag gesê die skool het die aanbied saam met die ander rolspelers as positief beleef. "Dit was 'n groot sukses. Ons het groot waardering vir die George-munisipaliteit en SWD-rugby vir hul rol in die aanbied van die geleentheid."
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het gesê die unie het baie goeie terugvoering gekry. Die publiek was beïndruk omdat juis een van die kleiner unies betrokke was.
"Dit is goed deur die publiek ontvang en ons sê dankie vir die ondersteuning. Dit het nie net voordele vir rugby gehad nie, maar ook die ekonomie." Hy het die sukses van die geleentheid toegeskryf aan 'n spanpoging tussen die rolspelers.
Noord-Transvaal begin met 'n teenaanval teen die WP. Foto: Eugene Gunning
Dirk Wessels, lid van die burgemeesterskomitee van die George-stadsraad en die reëlingskomitee, het gesê George het bewys dat die aanbied van sulke geleenthede 'n sterkpunt van die stad is.
"George was vir vyf dae elke dag op nasionale televisie. Dis nie net sport nie, maar ook toerisme wat voordeel getrek het. Dit was ' n massiewe inspuiting in die plaaslike ekonomie.
"Dit het gewys wat gedoen kan word as mense saamstaan. In dié geval, die skool, die munisipaliteit en die rugbyunie. Die plaaslike owerheid en die privaat sektor moet saamwerk."
Anton Moolman, hoofafrigter van die SWD Arende, het gesê George kan trots wees met die aanbied van die geleentheid. Uit 'n rugby oogpunt het die geleentheid gewys rugby is in goeie hande.
'n TV-kameraman van SuperSport het sy kamera goed beskut teen die weer op die laaste dag. Foto: Deidre Cloete
'n Speler van die WP rank hoog na die bal in die wedstryd teen die Blou Bulle. Foto: Eugene Gunning
Hy het beslis baie talent gesien. Daar moet wel in gedagte gehou word daar is 'n groot verskil tussen die Cravenweek-vlak en byvoorbeeld die eerste divisie van die Curriebekerreeks. Daar moet gekyk word hoe van die plaaslike talent hier behoue kan bly.
Volgens Moolman sal SA Rugby ook moet kyk na die oorgang van o.18-rugby na o.20-rugby. Daar moet meer internasionale rugby op junior vlak gespeel word.
Tydens 'n funksie van George se burgemeester is van links: Christo Vorster, hoof van Hoërskool Outeniqua, Gail van Wyk, Leon van Wyk, George-burgemeester en Karen Vorster.
Leon van Wyk, George se burgemeester, Fillip Venter, adjunkhoof van Hoërskool Outeniqua en WP Bosch, hoof van rugby by die skool.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’